Wednesday, May 16, 2012

Gedig 111 - Wit duif


'n Wit duif
het met sy vlerke kom wuif
'n teken van bo
wat my weer laat glo

'n Wit duif
het die twyfel kom verdryf
nuwe hoop gebring
my hart weer laat sing

'n Wit duif
het my vandag laat snuif
my saggies laat huil
in my hart kom skuil

'n Wit duif
het my vaarwel gewuif
my gelaat met nuwe hoop
waarvan my binneste oorloop


Tuesday, May 8, 2012

Gedig 110 - DANKIE - Waarvoor?


Waarvoor sê ek dankie
elke nuwe dag
- 'n kleine klankie
met blydskap in pag

Vir die sonskyn wat my begroet
die sagte wind wat waai
vir Hom wat my in my slaap behoed
terwyl onreg rondom my draai

Vir 'n bord vol kos
'n koppie warm tee
wat my van my honger verlos
my nuwe krag gee

Vir die bed waarop ek slaap
onder 'n warm wol-kombers
terwyl ander raap
na 'n harde karton-kombers

Vir die voorreg om te leef
elke asemhalings-teug
'n liggaam aanmekaar geweef
bestem vir lewens-vreug

Ek sê dankie - bowenal
vir hierdie gedig
wat uit my gedagtes beval
my bevry van lood-swaar gewig








Sunday, March 11, 2012

Gedig 109 - Die donker rondom my


Steeds is ek bang vir die donker
as die skaduwees van gister begin verskyn
ek na beter dae hunker
my vreugde wil verdwyn

Soms bevind ek my in 'n grot
sonder lig
wanneer vrees my omgord
met geen uitgang in sig

Dan wens ek dit was anders
dat ek weer iets kan wees
weg uit die losgemaal van die branders
iemand met 'n ewige positiewe gees

Partykeer raak die monster binne in my wakker
voel dit of hy my lewe wil oorneem
die bitter, hartseer beker
my van al my vrede ontneem

Die lewensberg lyk tog só hoog
terwyl ek sukkel om na bo te klim
as alles binne in my begin betoog
en ek wens ek was lewens-slim

Onweersdae maak my gemoed swaar
as ek na die donker wolke kyk
en innerlike heimwee ervaar
swaarmoedigheid net nie wil wyk

Die helder maan daar buite
laat die donkerte in my gemoed kwyn
deur my siel se ruite
totdat die onreg verdwyn

Weldrae sal die son weer skyn
helder binne in my
dan kan niks my meer ondermyn
sal vreugde begin gedy

'n Nuwe dag
bring hoop vir my siel
ongekende nuwe krag
my binneste deur verwagting besiel



Friday, March 9, 2012

Gedig 108 - Veldmuis vertel


Ek sien 'n vaal veldmuis
reg langs my huis
en die verhaal wat hy vertel
ken ek wel

'n Verhaal van hartseer en pyn
wat net nie wil verdwyn
van swaarkry en armoede
gebring deur die wêreld se roede

Ook 'n verhaal van nuwe hoop
waarvan sy hartjie oorloop
met die breek van elke nuwe dag
vind hy êrens lewens-krag   

Gedig 107 - Wie jy is


Hoe steek 'n mens dit weg
wie jy eintlik is
hoe dun is die lyn tussen goed en sleg
wat sal die mense omtrent jou wis

Sal dit help as jy in die kerkbanke sit
jy met die ewige glimlag op jou gesig
as jy selfs saam met die sediges bid
met jou skouers vol gewig

Tuesday, February 28, 2012

Gedig 106 - Saad van hoop


My hart is omgedolwe
deur die ploegskaar van die lewe
stukkend geskeur
nog baie teer

Die saad lê in die vore
ek voel soms verlore
wanneer gaan dit groei
my toekoms bloei

Eintlik is dit saad van hoop
waarvan my hart oorloop
'n verwagting binne in my
waarop my lewe gedy  

Sunday, February 12, 2012

Gedig 105 - 'n Geliefde kwyn


Vandag voel ek klein
want ek sien 'n geliefde kwyn
weg die fors en trots
sy, 'n lewensrots

Dit het só skielik gebeur
gedagtes weggeskeur
wat sou sy dink
wanneer die wanhoop wink

Wanneer sy in die verte staar
wonder jy of sy iets gewaar
want sy lyk só weerloos
en jy voel totaal magteloos

Haar liggaam afgetakel
so baie wat haar kwel
nou net vel en been
waar is haar vreugde heen

Die ouderdom besig om te wen
amper verby die lewens-wedren
hoe sterk is haar lewenslus
is dit amper uitgeblus

Soms nog 'n sprankie hoop
deur 'n stille glimlag verkoop
vertroue sy word gespaar
deur nog 'n lewensjaar

In jou eie hart
voel jy al haar smart
want jy het self 'n ouer geword
wat weet wanneer iets skort

En vanaand wanneer jy bid
dink jy aan haar wat in 'n hopie sit
plaas jy in God al jou hoop
terwyl 'n stille traan oor jou wang loop