Vandag is my gedagtes tot stilstand geruk. Nie eensklaps nie, maar oor die tydsbestek van enkele ure. Ek het skielik tot die besef gekom dat ek ook maar net een van hulle is. 'n Korrelkop.
Ek het baie gehoor dat my ouers van korrelkoppe gepraat het. En ek het eintlik gedink dat ek presies weet hoe hulle lyk en wie hulle is.
Die grys ou omies in die kerk, wat in hulle swart pakke, met hulle wit hemde en dasse op die kerkraad dien. Sondag na Sondag kom hulle in gelid in die kerk ingestap, met hulle strak gesigte en staar reguit voor hulle uit. En elke Sondag sit hulle op dieselfde plekke, so asof hulle dit gekoop het. As iemand in die kerk hoes of proes (of selfs net skielik beweeg), lyk dit omtrent of hulle hulle koppe af ruk om die “oortreder” met vermanende blikke aan te gluur.
Tydens kerkraadsvergaderings is dit die korrelkoppe wat altyd teëstribbel en 'n besluit wil kortwiek. Of wat dit wat ter tafel gelê word só wil verander, dat dit net so wel hul eie besluit kon wees.
Dit is die korrelkoppe wat altyd gesien wil word en gehoor wil word. Tydens die kerkbasaar is hulle op die voorgrond. Nie met die werk nie, maar om die podium te betree. As die byeenkoms 'n sukses was, is hulle dadelik gereed om die “verdiende” eer en bedankings te ontvang. As dit egter nie 'n sukses was nie, is hulle die eerste om kritiek te lewer. Hulle sal gou byvoeg dat hulle eintlik geweet het dat dit nie gaan werk nie, maar dat hulle stilgebly het om gevoelens te spaar (So asof hulle in elk geval weet wanneer om stil te bly).
Wanneer dit hulle beurt is om iets te sê, maak hulle eers hulle kele hoorbaar skoon voordat hulle met opmerklike tussenposes hulle sê, sê. En wanneer hulle gevra word om te bid, begin hulle by Adam en werk stelselmatig deur al die “groot geeste” van die Bybel. As jy nie behoorlik uitgerus is nie, moet jy vinnig na jou wakkerbly pille gryp, of moet jy maar hoop dat jy nie 'n snorkie gee wanneer jy onder gebed wegdut nie. En as die korrelkop klaar gebid het en jy uiteindelik jou oë kan oopmaak, betrap jy jouself dat jy moet rondkyk of iemand jou nie snaaks aankyk nie. Het jy miskien geslaap, of gesnork?
En vandag het my prentjie van 'n korrelkop skielik verander. Eintlik kan ek maar net in die spieël gaan kyk of 'n foto van myself neem, om presies te sien hoe lyk 'n korrelkop.
Ek is nog nie heeltemal grys nie, alhoewel ek vinnig daarheen oppad is. Die plooie het al hulle merk op my gesig gemaak, soos die ringjare van 'n boom. En dit lyk asof my voorkop permanent in 'n frons tot stilstand gekom het.
Ek is nie meer op die kerkraad nie, dra nie 'n swart pak met 'n wit hemp en das kerk toe nie, aangesien ek dit verruil het vir 'n oopnek hemp (en 'n leerbaadjie wanneer dit koud is). Ek kom met 'n “gelukkige” uitdrukking op my gesig in die kerk in en groet almal vriendelik met 'n handdruk of 'n drukkie. Maar binne in my gemoed broei die onheil. Soos die gesegde: “Stille waters, diepe grond. Onder draai die duiwels rond.” Net so!
In my vorige kerk was ek op die kerkraad. Nogal sekretaris om alles te kroon. En het ek myself nie laat geld nie. Ek het altyd iets gehad om te sê. Dikwels tot die vermaak van die ander kerkraadslede. As ek nou terugdink moes ek eerder die hanswors as die sekretaris gewees het. En Sondae tydens die eredienste het ek gesit en notas maak, net om na die tyd iets “pittigs” daaroor te skryf in 'n e-pos vir die wat dit saam met my snaaks sou vind.
My e-posse het in intensiteit toegeneem en ek het my sê gesê – sonder om enige doekies om te draai. Weldrae het ek begin om kortverhale en gedigte te skryf, kwansuis om my gedagtes skoon te kry. En ek het selfs my eie blog op internet geskep sodat elkeen wat lus voel dit kan lees.
Mettertyd het ek en die herder van my vorige gemeente in 'n woordestryd op e-pos betrokke geraak. En ek het in die stof gebyt. Ek het uit die gemeente bedank en is stert tussen my bene daar weg. Nadat ek verskeie weke my wonde gelek het, het ek weer by 'n ander gemeente ingeskakel.
Eers was ek soos 'n gekweste bok wat nêrens wou inskakel nie, maar mettertyd het ek weer betrokke geraak. Ek sing selfs al weer in die voorsanggroep (sang is eintlik vir my 'n passie). Maar nou, net 'n jaar later, wil ek myself al weer laat geld. Ek sit nou wel nie en notas maak in die kerk nie, maar my kop is aan die woel. En oppad huis toe kla ek my vrou se ore van haar kop af (sy het
2.
my maar gedwee gevolg, toe ek myself uit ons vorige gemeente “uitgeskryf” het). En wanneer dinge my te veel pla, spring ek op die skootrekenaar en spoel my bek uit in 'n gedig. Net om my gedagtes “skoon” te maak.
Telkens wanneer iemand iets in die kerk sê wat my nie aanstaan nie, kla ek ons leraar se ore van sy kop af en hy luister maar gedwee. Ek het selfs al vir hom 'n brief geskryf oor dit wat my ongelukkig maak. En al in protes uit die kerk uit geloop (met my vrou se hoë-hak skoene wat my soos die klank van 'n perd se galop gevolg het).
En toe ek vanoggend oppad kerk toe was, het ek in my vrou se ore gemor oor hoe ek die aflos prediker se mond gaan stilmaak as hy waag om iets verkeerd te sê. En sy het maar gedwee geluister.
Ons leraar is tans met verlof en het seker met 'n opgehoude asem vertrek: ”Wat sou van sy gemeente word in sy afwesigheid?” Inderwaarheid 'n uitstekende vraag, met 'n korrelkop soos ek wat agter bly. Hoe moet hy nou sy welverdiende ruskansie geniet?
Daar val ek myself al weer in die rede. Laat ek verder vertel.
Toe ek by die kerk aankom, was daar net enkele motors. Ek het binne gegaan en slegs die prediker en vier ander mense daar aangetref. Daar was nog geen teken van die persoon wat die klank moes hanteer nie. En die persoon wat die visuele projektor moes aanskakel was ook nog nie daar nie. Selfs etlike persone wat saam met my voorsang moes sing, was ook nog nie daar nie. Ek het toe maar met my beperkte kennis probeer om alles aan te skakel en op te stel. En talle mense wat moes deelneem, was of nie daar nie of het op die laaste nippertjie daar aangekom. Nodeloos om te sê dat dit die ordelike verloop van die erediens negatief beinvloed het.
En toe begin ek om te dink. Was almal dan nou in leidelike verset? Het hulle met opset teen die prikkels geskop? En wat dan van my? Wie is ek nou eintlik? Het ek nou gekry wat ek soek?
Kom ek probeer om myself in enkelwoorde te beskryf: fariseer, kla-kous, pruttelpot, morpot, kritikus... of NEE! KORRELKOP!
En asof alles nog nie duidelik genoeg vir my was nie, kom my dogter ons groet en sê haar skoonma het my blog gelees en het gesê dat sy my gedigte gelees het, maar dat sy graag iets meer opgeruimd wil lees.
En toe gaan lees ek self. En my opsomming: swartgallig, morbied, sinies...
En nou bieg ek: “Jammer aan almal wat my blog lees. Jammer Mariaan (my dogter se skoonma) dat alles so swartgallig was. Jammer pastoor Jaggie dat ek so krities was. Jammer pastoor Charl dat jy na my gemor moes luister (en dankie dat jy my nog nie 'n “back hand” deur die gesig gegee het nie!) en aan my vrou – jammer dat ek jou deel hiervan gemaak het (en dat jy elke oggend drie uur moet opstaan om vir my saligheid te bid!) En aan Jesus – jammer dat ek U so teleur gestel het – ek, die korrelkop.
En mag ek nou net vreugde saai. Opgeruimde gedigte en verhale skryf (Die hoop beskaam nie dat een van my verhale vir publikasie aanvaar sal word nie!) Mag ek verder ophou met fout soek. En mag ek tog ophou om te kla oor alles, soos 'n ou vrou met 'n nat broek. Of met 'n witbrood onder die arm en mag ek eerder dankbaar wees vir dit wat ek het. En mag ek tog net begin om die lewe te geniet.
En helaas mag ek net ophou om 'n korrelkop te wees (ek is amper te bang om in die spieël te gaan kyk).