Tuesday, August 31, 2010

Gedig 70 - Huisbrekers

Het dit al met jou gebeur,
dat iemand jou privaatheid kom verskeur...
jou totaal verstom,
en jou eiendom binne kom?

Diep in die nag,
wanneer jy dit nie verwag...
jou goed kom haal,
sonder om daarvoor te betaal.

Asof dit hulle eie is,
dink jy sal dit nie mis...
met jou gedagtes nog wrang,
wonder hoe jy dit gaan vervang.

Miskien lê dit in 'n pandjieswinkel,
amper vir niks verkwansel...
dit is mos "regstellende inkopies"
jy mag jou dus nie vervies.

Wat het van die mensdom geword,
moet ons nou maak of niks skort...
hulle maar vergewe,
terwyl ons van woede bewe?

Wens ek was 'n beter mens,
nie deur so baie swakheid begrens...
want ek voel lus om hulle te klap,
hulle oë uit te krap!

Saturday, August 14, 2010

Gedig 68 - Die woord LIEFDE

Liefde is 'n woordjie klein,
vervat in menige refrein...
tog is dit die woord wat beskryf,
wat dit is wat die mensdom voortdryf.

Wanneer twee mense liefde vind,
word hulle aan mekaar gebind...
selfs as die lewensstorms kom,
bind liefde hulle soos gom.

Liefde vir 'n dier,
is altyd 'n plesier...
want hy het die vermoë,
om dit te weerspieël in sy oë.

Liefde vir 'n gier,
kos dikwels baie duur...
want voor jy jou kan keer,
het jy geen verweer.

Liefde is soms moeilik
om te verduidelik...
veral die liefde vir jou mede-mens,
word maklik begrens.

Sy liefde baie groot,
is moeilik om te verwoord...
Hy het immers Sy seun laat sterf,
om vir ons vergifnis te verwerf!

Monday, August 9, 2010

Gedig 67 - Gedagtes vir jou

Ek sien jou in my geestesoog,
die onsekerheid waarin jy leef...
die dinge wat in jou binneste betoog,
gedagtes van twyfel deurmekaar verweef.

Die aanslag van die mensdom,
raak dikwels baie fel...
soms is hulle soos engele vermom,
maar tog is hulle deel van 'n duistere bestel.

Het jy al gesit en wonder,
hoekom alles om jou besig is om te verduister?
Jy met 'n taak só besonder,
terwyl hulle sit en fluister!

Só was dit ook met die Meester,
terwyl hy besig was om wonderwerke te doen...
was hulle met wraakgedagtes begeester,
om te keer dat Hy die mensdom versoen!

Miskien moet jy so daaraan dink,
dit wat jy besig is om te bereik...
die sukses wat in die verte wink,
sal hulle planne fnuik.

Tel jou wapens op,
die stryd is reeds halfpad gewen...
Hy sal hulle in hul spore stop,
Sy lig sal die duisternis vaspen!