Saturday, December 31, 2011

Gedig 100 - Kom Terug


      Waar is jy my dogter,
      my sonskynkind...
      jy - die vegter,
      wonder waar jy jou bevind!

      Hoekom het depressie jou vreugde kom haal,
      jou blydskap kom steel...
      het ek jou dalk gefaal,
      hoekom is alles vir jou te veel?

      Wat kan ek vir jou doen,
      om jou terug te bring...
      jou met vreugde te versoen,
      sodat jou hart weer kan sing?

      Wanneer die son sak,
      die donkerte nader kruip...
      wonder ek of wanhoop jou pak,
      jy in die put van vrees versuip!

      Wanneer ek jou sien,
      die stilte wat oor jou kom...
      weet ek dat jy dit nie verdien,
      voel my binneste verstom!

      Nou soos ñ skaduwee,
      my vreugdes kind...
      op hierdie vreemde weë,
      deur onreg verslind!

      Staan tog op uit die modderslyk,
      was tog jou gedagtes skoon...
      dit is nou tyd dat satan wyk,
      jy al hierdie onreg hoon!

      LIEF VIR JOU - MY DOGTER !!!

Tuesday, December 27, 2011

Gedig 99 - Swanger Brein


My brein is swanger
gedagtes besig om te broei
binne 'n droom-vanger
stadig besig om te groei

Soos selle wat saamgroepeer
saamgeflans tot 'n fetus
'n mengelmoes letters sorteer
gun my gedagtes geen rus

'n Saadjie in stilte geplant
wat onophoudelik groei
al my rus verpand
verwagting wat gloei

My brein is honger
'n fetus om te voed
gedagtes verwonder
woordestryd verwoed

'n Kind in wording
geboorte wat wag
'n gedig om voort te bring
uit gedagtes vermag






Saturday, September 24, 2011

Gedig 98 - Elke Mens


Elke mens
het 'n bedekte wens
van voorspoed en geluk
minder lewens-druk

Vergeet eerder van die verlede
berus jou by die hede
want water onder deur die brug
kom nooit weer terug

Gryp elke dag vas
soos 'n ornament van glas
soek dit wat kosbaar is
maak dit jou lewens-lus

Wanneer die natuur fluister
wees seker dat jy luister
want die stille taal
vertel 'n verhaal

Die morester
in die hemel daar ver
vertel van hoop
waarvan die natuur oorloop

Die sekel-maan
stort 'n stille traan
wanneer hy in daglig verdwyn
tot hy vanaand weer verskyn

Die voëltjies se gekwetter
is die natuur se wekker
alles ontwaak
om 'n nuwe dag te smaak

Die hitte van die son
verhit jou mens-kokon
en sal weldrae vergestalt
in die warmte van jou hart

Die vars reuk van komende reën
vertel van ontelbare seën
en voorspel vreugde in die natuur
want die uitkoms is hier

Elke mens
word deur twyfel begrens
as hy egter rodom hom kyk
sal die twyfel wyk

Thursday, September 15, 2011

Rye



 
Ek staan in 'n ry in die supermark, om 'n maaltyd te koop. 'n Redelike lang ry, moet ek byvoeg. Toe ek amper voor in die ry is, stap 'n vrou heeltemal vanuit die teenoorgestelde rigting tot aan die voorpunt van die ry, só asof sy haar beurt afgewag het. En sy word gehelp.
Nodeloos om te sê, ek is onmiddelik rooi-warm en op die punt om my mond uit te spoel. Gelukkig spring die ou voor my op sy perdjie en spreek sy misnoeë uit, in gekruide taal wat ek eerder nie wil herhaal nie.
Dit het my aan die dink gesit...
Hoekom is daar oral rye waarin ons moet staan?
Dit begin van kleintyd af. Ek onthou nog my eerste dag in Sub A soos gister. Die eerste ding wat ons geleer het, was om in 'n ry aan te tree. Soggens, na eerste pouse, na tweede pouse en helaas aan die einde van die dag, om die skoolgebou te verlaat.
En dit het voortgeduur tot aan die einde van my skool loopbaan (of so het ek altans gedink). Die rye het net al hoe meer geword. Ons het in rye tussen klaskamers en na sportvelde beweeg, in rye na gesamentlike byeenkomste en het selfs in 'n ry gestaan en wag om die toilet te besoek.
Toe ek klaar met skool was, en die “grootmens-wêreld” betree het, het ek nie besef dat dit nie die einde van die rye was nie.
Ek is feitlik uit die skoolbanke na die Polisiekollege, om my opleiding as polisiebeampte te deurloop. En wat was die eerste ding wat hulle ons geleer het? Staan in rye. 'n Ry om getel te word, 'n ry om jou oorpakke en ander klerasie en toerusting te gaan afhaal, 'n ry om te wag dat jou maaltyd opgeskep word, 'n ry om jou beurt af te wag om die gesamentlike badkamers te gebruik, 'n ry oppad paradegrond toe, 'n ry na die lesing lokaal toe... En so kan ek voortgaan. Ons is selfs geleer om in peleton-formasie aan te tree (eintlik maar net drie rye mansskappe wat agter mekaar staan, met elmboog spasies tussen hulle). En o ja, Sondae moes ons in rye na die kerk masjeer om die eredienste by te woon.
Toe ek uiteindelik my opleiding as polisiebeampte voltooi het, het ek gehoop dat die rye sou ophou. Maar toe begin die rye van die samelewing...
'n Ry by die bank om jou salaris te gaan trek. 'n Ry by die munisipaliteit om jou ligte- en waterrekening te gaan betaal. 'n Ry by die poskantoor om 'n seël te gaan koop. 'n Ry by die supermark om vir jou inkopies te betaal. 'n Ry by die verkeersdepartement om 'n motorlisensie uit te neem of jou bestuurderslisensie te verkry of te hernu. 'n Ry by Die Departement van Binnelandse Sake om jou identiteitsdokument te bekom.'n Ry by die haarkapper om jou hare te sny. Selfs 'n Ry waarin jy van vroegdag af wag om 'n rugby kaartjie te koop (net om later te kyk hoe jou span verloor). En so aan en so aan... (Die banke is darem intussen gerekaniseer sodat 'n mens by 'n outomatiese teller geld kan trek of transaksies kan doen, maar ai tog! Selfs daar moet 'n mens dikwels in 'n elle lange ry staan en wag).
Nou sukkel ek nogsteeds om dit klein te kry: “Waarom al die rye?” Miskien gaan dit oor orde in die samelewing. (Nou hoekom word mense dan toegelaat om in te druk). Of miskien word ons sodoende dissipline geleer. (Net jammer party mense leer nooit nie). Is dit nie maar net goeie maniere om iemand wat voor jou op 'n plek was, sy voorkeur possisie te laat behou nie?
Ongelukkig is daar diegene in die samelewing wat altyd 'n “goeie” rede het om nie in 'n ry te gaan staan en wag, soos al die ander mense nie. Gronde soos: ouderdom, liggaamlike gebrek, ras, geslag of siekte. Of: dat hy of sy iemand ken wat daar werk, laat is vir 'n ander afspraak, 'n hooggeplaasde familielid het of dat sy met haar skrapsgeklede lyfie darem nie agter in die ry kan gaan staan nie (hoe kan die mans dan haar bene dophou?) “Goeie redes” is legio.
Wat myself betref, wonder ek of rye nie daargestel is om my geduld (of die gebrek daaraan) te toets nie. Dit voel vir my asof ek agter in die ry gestaan het, toe geduld uitgedeel is (Sien, ek moes tot my geduld ook in 'n ry gaan haal het).
2.

Selfs wanneer 'n mens bestuur word jy in rye ingedwing. Verkeersbane is daargestel om verkeersorde te bewerkstellig en om te verseker dat die padgebruikers, wat in 'n sekere rigting beweeg, spesifieke bane gebruik. Die gevolg is egter dat daar tydens spitstye rye en rye motors in spesifieke rigtings beweeg, dikwels teen 'n slakke-pas. En as jy jou bestemming wil bereik moet jy maar gedwee in 'n ry inval. Dit is nou te sê as jy geduldig genoeg is. Sommige padgebruikers voel mos dat hulle nie in die normale rye hoef in te val nie. Derhalwe sal hulle sommer hulle eie baan links van die geelstreep maak, of in die vinnige baan verby die “geduldige” padgebruikers jaag – net om oor die sperstreep voor in die ry in te druk. En dan het hulle nog die vermetelheid om met hulle flikkerligte “dankie” te sê, so asof jy hulle ingelaat het en hulle jou nie amper van die pad af gedruk het nie. Soms voel ek ek is 'n goeie kandidaat vir “road-rage”.
Terselfdertyd dink ek ook aan die natuur. Die hen stap voor en haar kuikens volg haar - in 'n ry. Eende swem in 'n ry. Skape loop in 'n ry (as die eerste een eers deur die hek is volg die ander skape maar gedwee, selfs al word hulle ter slagting gelei). Trek-voëls vlieg in 'n ry. Miere loop in 'n ry. Selfs beeste loop in 'n ry wanneer hulle gedip moet word (al word hulle in 'n drukgang ingedryf).
Nou wonder ek maar net: “Het die natuur by die mensdom geleer van rye of het die mensdom by die natuur geleer?” Dit is amper soos die ge-eikte vraag: “Wie was eerste, die hen of die eier?”
Selfs in die spreektaal word daar na rye verwys. Soos wanneer 'n dronk persoon in“twee rye
spore” loop.
Miskien lê die antwoord in die Bybel. Daar word gesê: “Wie eerste is sal laaste wees en wie laaste is sal eerste wees”. Is dit nie maar 'n verwysing na mense wat in rye staan en wag nie? En dit laat my wonder – sal ons eendag in rye staan en wag voor God se regterstoel om beoordeel te word? En is dit nie juis ons geduld in die lewens-rye wat ons gesindheid en die werklikheid van dit wat in ons binneste verskuil is, weerspieël nie?
Dit voel asof al my gedagtes nou 'n ry vorm.

Sunday, September 11, 2011

Korrelkoppe


Vandag is my gedagtes tot stilstand geruk. Nie eensklaps nie, maar oor die tydsbestek van enkele ure. Ek het skielik tot die besef gekom dat ek ook maar net een van hulle is. 'n Korrelkop.
Ek het baie gehoor dat my ouers van korrelkoppe gepraat het. En ek het eintlik gedink dat ek presies weet hoe hulle lyk en wie hulle is.
Die grys ou omies in die kerk, wat in hulle swart pakke, met hulle wit hemde en dasse op die kerkraad dien. Sondag na Sondag kom hulle in gelid in die kerk ingestap, met hulle strak gesigte en staar reguit voor hulle uit. En elke Sondag sit hulle op dieselfde plekke, so asof hulle dit gekoop het. As iemand in die kerk hoes of proes (of selfs net skielik beweeg), lyk dit omtrent of hulle hulle koppe af ruk om die “oortreder” met vermanende blikke aan te gluur.
Tydens kerkraadsvergaderings is dit die korrelkoppe wat altyd teëstribbel en 'n besluit wil kortwiek. Of wat dit wat ter tafel gelê word só wil verander, dat dit net so wel hul eie besluit kon wees.
Dit is die korrelkoppe wat altyd gesien wil word en gehoor wil word. Tydens die kerkbasaar is hulle op die voorgrond. Nie met die werk nie, maar om die podium te betree. As die byeenkoms 'n sukses was, is hulle dadelik gereed om die “verdiende” eer en bedankings te ontvang. As dit egter nie 'n sukses was nie, is hulle die eerste om kritiek te lewer. Hulle sal gou byvoeg dat hulle eintlik geweet het dat dit nie gaan werk nie, maar dat hulle stilgebly het om gevoelens te spaar (So asof hulle in elk geval weet wanneer om stil te bly).
Wanneer dit hulle beurt is om iets te sê, maak hulle eers hulle kele hoorbaar skoon voordat hulle met opmerklike tussenposes hulle sê, sê. En wanneer hulle gevra word om te bid, begin hulle by Adam en werk stelselmatig deur al die “groot geeste” van die Bybel. As jy nie behoorlik uitgerus is nie, moet jy vinnig na jou wakkerbly pille gryp, of moet jy maar hoop dat jy nie 'n snorkie gee wanneer jy onder gebed wegdut nie. En as die korrelkop klaar gebid het en jy uiteindelik jou oë kan oopmaak, betrap jy jouself dat jy moet rondkyk of iemand jou nie snaaks aankyk nie. Het jy miskien geslaap, of gesnork?
En vandag het my prentjie van 'n korrelkop skielik verander. Eintlik kan ek maar net in die spieël gaan kyk of 'n foto van myself neem, om presies te sien hoe lyk 'n korrelkop.
Ek is nog nie heeltemal grys nie, alhoewel ek vinnig daarheen oppad is. Die plooie het al hulle merk op my gesig gemaak, soos die ringjare van 'n boom. En dit lyk asof my voorkop permanent in 'n frons tot stilstand gekom het.
Ek is nie meer op die kerkraad nie, dra nie 'n swart pak met 'n wit hemp en das kerk toe nie, aangesien ek dit verruil het vir 'n oopnek hemp (en 'n leerbaadjie wanneer dit koud is). Ek kom met 'n “gelukkige” uitdrukking op my gesig in die kerk in en groet almal vriendelik met 'n handdruk of 'n drukkie. Maar binne in my gemoed broei die onheil. Soos die gesegde: “Stille waters, diepe grond. Onder draai die duiwels rond.” Net so!
In my vorige kerk was ek op die kerkraad. Nogal sekretaris om alles te kroon. En het ek myself nie laat geld nie. Ek het altyd iets gehad om te sê. Dikwels tot die vermaak van die ander kerkraadslede. As ek nou terugdink moes ek eerder die hanswors as die sekretaris gewees het. En Sondae tydens die eredienste het ek gesit en notas maak, net om na die tyd iets “pittigs” daaroor te skryf in 'n e-pos vir die wat dit saam met my snaaks sou vind.
My e-posse het in intensiteit toegeneem en ek het my sê gesê – sonder om enige doekies om te draai. Weldrae het ek begin om kortverhale en gedigte te skryf, kwansuis om my gedagtes skoon te kry. En ek het selfs my eie blog op internet geskep sodat elkeen wat lus voel dit kan lees.
Mettertyd het ek en die herder van my vorige gemeente in 'n woordestryd op e-pos betrokke geraak. En ek het in die stof gebyt. Ek het uit die gemeente bedank en is stert tussen my bene daar weg. Nadat ek verskeie weke my wonde gelek het, het ek weer by 'n ander gemeente ingeskakel.
Eers was ek soos 'n gekweste bok wat nêrens wou inskakel nie, maar mettertyd het ek weer betrokke geraak. Ek sing selfs al weer in die voorsanggroep (sang is eintlik vir my 'n passie). Maar nou, net 'n jaar later, wil ek myself al weer laat geld. Ek sit nou wel nie en notas maak in die kerk nie, maar my kop is aan die woel. En oppad huis toe kla ek my vrou se ore van haar kop af (sy het
2.


my maar gedwee gevolg, toe ek myself uit ons vorige gemeente “uitgeskryf” het). En wanneer dinge my te veel pla, spring ek op die skootrekenaar en spoel my bek uit in 'n gedig. Net om my gedagtes “skoon” te maak.
Telkens wanneer iemand iets in die kerk sê wat my nie aanstaan nie, kla ek ons leraar se ore van sy kop af en hy luister maar gedwee. Ek het selfs al vir hom 'n brief geskryf oor dit wat my ongelukkig maak. En al in protes uit die kerk uit geloop (met my vrou se hoë-hak skoene wat my soos die klank van 'n perd se galop gevolg het).
En toe ek vanoggend oppad kerk toe was, het ek in my vrou se ore gemor oor hoe ek die aflos prediker se mond gaan stilmaak as hy waag om iets verkeerd te sê. En sy het maar gedwee geluister.
Ons leraar is tans met verlof en het seker met 'n opgehoude asem vertrek: ”Wat sou van sy gemeente word in sy afwesigheid?” Inderwaarheid 'n uitstekende vraag, met 'n korrelkop soos ek wat agter bly. Hoe moet hy nou sy welverdiende ruskansie geniet?
Daar val ek myself al weer in die rede. Laat ek verder vertel.
Toe ek by die kerk aankom, was daar net enkele motors. Ek het binne gegaan en slegs die prediker en vier ander mense daar aangetref. Daar was nog geen teken van die persoon wat die klank moes hanteer nie. En die persoon wat die visuele projektor moes aanskakel was ook nog nie daar nie. Selfs etlike persone wat saam met my voorsang moes sing, was ook nog nie daar nie. Ek het toe maar met my beperkte kennis probeer om alles aan te skakel en op te stel. En talle mense wat moes deelneem, was of nie daar nie of het op die laaste nippertjie daar aangekom. Nodeloos om te sê dat dit die ordelike verloop van die erediens negatief beinvloed het.
En toe begin ek om te dink. Was almal dan nou in leidelike verset? Het hulle met opset teen die prikkels geskop? En wat dan van my? Wie is ek nou eintlik? Het ek nou gekry wat ek soek?
Kom ek probeer om myself in enkelwoorde te beskryf: fariseer, kla-kous, pruttelpot, morpot, kritikus... of NEE! KORRELKOP!
En asof alles nog nie duidelik genoeg vir my was nie, kom my dogter ons groet en sê haar skoonma het my blog gelees en het gesê dat sy my gedigte gelees het, maar dat sy graag iets meer opgeruimd wil lees.
En toe gaan lees ek self. En my opsomming: swartgallig, morbied, sinies...
En nou bieg ek: “Jammer aan almal wat my blog lees. Jammer Mariaan (my dogter se skoonma) dat alles so swartgallig was. Jammer pastoor Jaggie dat ek so krities was. Jammer pastoor Charl dat jy na my gemor moes luister (en dankie dat jy my nog nie 'n “back hand” deur die gesig gegee het nie!) en aan my vrou – jammer dat ek jou deel hiervan gemaak het (en dat jy elke oggend drie uur moet opstaan om vir my saligheid te bid!) En aan Jesus – jammer dat ek U so teleur gestel het – ek, die korrelkop.
En mag ek nou net vreugde saai. Opgeruimde gedigte en verhale skryf (Die hoop beskaam nie dat een van my verhale vir publikasie aanvaar sal word nie!) Mag ek verder ophou met fout soek. En mag ek tog ophou om te kla oor alles, soos 'n ou vrou met 'n nat broek. Of met 'n witbrood onder die arm en mag ek eerder dankbaar wees vir dit wat ek het. En mag ek tog net begin om die lewe te geniet.
En helaas mag ek net ophou om 'n korrelkop te wees (ek is amper te bang om in die spieël te gaan kyk).

Sunday, August 28, 2011

Gedig 97 - Soms


Soms voel ek om te vlug
weg uit hierdie klug
weg van hier
waar alles my binneste versuur

Soms voel ek alleen
onthef van alle seën
staan ek op 'n verhoog
sonder dialoog

Soms voel ek sat
heeltemal afgemat
moeg vir my werk
selfs vir my kerk

Soms voel ek naar
wanneer ek dit ervaar
'n gevoel van wanhoop
waarvan ek oorloop

Soms wil ek net gaan lê
sonder om iets te sê
en voel ek gestroop
van elke greintjie hoop

Soms wil my geloof taan
stort ek 'n stille traan
en voel my lewensweg
of dit elke dag versleg

Soms sit ek op 'n grens
met 'n lewens-wens
een van hoop
waarvan my hart oorloop

Soms dink ek terug
aan dae van ewewig
toe ek nog iets was
in 'n ander klas

Soms kom ek tot die besef
ek is van alles onthef
nou maar net 'n pion in 'n spel
wat my daagliks teen die aarde neervel

Wednesday, August 17, 2011

Gedig 96 - Hulpgeroep


Weereens word ek tot stilte gebring
om oor alles te besin
eintlik word ek gedwing
om van voor af te begin

Ek gee een tree na voor
dan val ek weer twee treë terug
as jy mooi luister sal jy dit hoor
'n swaarmoedige sug

Eintlik is hierdie 'n uitroep na bo
vanuit 'n binneste baie broos
na Hom in wie ek glo
om my tog te vertroos

Tuesday, August 2, 2011

Gedig 95 - 'n Moeder

Die grootste blydskap vir ñ vrou,
kom wanneer sy haar eersteling teen haar bors hou...
wanneer sy hom koester,
weet sy sy is ñ moeder.

Soos die jare kom en gaan,
moet sy hom gereeld vermaan...
terwyl hy as mens ontwikkel,
met lewens-waarhede sukkel .

Soos hy groot word,
wonder sy dikwels wat skort...
hoop sy net hy vind baat,
by al die jare se raad.

ñ Moeder se hart,
word soms uitgetart...
deur haar liefdes-kind,
wat hom in nood bevind.

Soms is haar hart seer,
haar binneste baie teer...
as sy kyk na haar kind se gesig,
sy skouers vol gewig.

Snags stort sy ñ stille traan,
wat ñ weg oor haar gesig baan...
as sy niks kan doen,
om met haar kind te versoen.

Soms voel sy alleen,
weet sy nie waarheen...
as niks uitwerk,
haar gesig van wanhoop vertrek.

Soms gaan sy gebuk,
onder baie lewensdruk...
sloof sy haar af,
om ñ tuiste aan haar gesin te verskaf.

Tog is dit in ñ moeder se natuur,
om alles te verduur...
is ñ moederhart,
groter as al die smart.

En as jy haar vra,
hoe sy al die laste dra...
sal sy vir jou sê,
hoe diep haar liefde lê!

Thursday, July 21, 2011

Gedig 94 - Onvoltooide Lewensdroom

Die halwe vroeë-oggend maan
laat by my 'n hartseer traan
wanneer ek dink aan elke onvoltooide hoofstuk
agter gelaat midde soveel lewens-druk

Soms voel my lewe so leeg
as alles so swaar weeg
en ek soms gou moed verloor
niks my meer bekoor

Mense stel my maklik teleur
dan sukkel ek om my self te keer
en voel ek om te vlug
beskou ek alles as 'n klug

Dan wonder ek wat skort met my
hoekom trap ek so klei
wens ek ek kon anders wees
iemand met 'n ligter gees

Eintlik voel alles in my so broos
soos 'n verlepte roos
en hoop ek ek het nog 'n kans
op nuwe lewens-glans

Sunday, March 13, 2011

Gedig 93 - Oë van jou hart

Sien jy met die oë van jou hart
tot diep in 'n ander se wese
digy daardie persoon se smart
sy bedekte vrese

Blinddoek jy die oë van jou hart
omdat jy bang is om te sien
dat jou gewete jou gaan tart
as jy weet wat ander eintlik verdien

Open vandag die oë van jou hart
sodat jy kan sien verby ander se lag
uit die dieptes van jou hart
dit is tog wat God van jou verwag

Sunday, February 6, 2011

Gedig 92 - Die nuwe weg

Sal jy jou siel verkoop
vir 'n pot lensiesop
toelaat dat mense oor jou loop
jou in die gesig skop

Sê jy maklik nee
of is dit vir jou só moeilik
om 'n negatiewe antwoord te gee
dat jy in jou woorde wil verstik

Wanneer is genoeg dan genoeg
is dit tyd om terug te staan
om op te hou met swoeg
op 'n rustiger weg te gaan

Die tyd is nou
om nee te sê
jou menswees te behou
'n nuwe weg bloot te lê

Saturday, February 5, 2011

Gedig 91 - My Damaskus

Vandag voel my hart bly
ek sien 'n helder lig skyn
al die wag verby
twyfel het eensklaps verdwyn

My Damaskus het gekom
ek is oppad na my nuwe stad
my lewe begin weer blom
daar is 'n lied in my hart

Ek kan van dankbaarheid juig
presies dit waarvoor ek wou vra
kan ek nou in eerbied getuig
het ek gekry voordat ek dit op kon dra

Na al my maande van twyfel
voel ek nou eintlik skaam
en moet ek dit vir jou vertel
in Jesus naam

Dit waarvan ek só lank droom
het oor my pad gekom
daarom kan ek nie skroom
en betoon ek my dankbaarheid aan Hom

As jy vandag twyfel
wil ek vir jou sê
Hy dit reeds vir jou bestel
alle begeertes wat in jou hart lê

Al wat jy nou moet doen
is om op Hom te wag
jy sal met Sy tyd moet versoen
miskien is môre jou dag

Sunday, January 30, 2011

Gedig 90 - Ouderdom

Soos die ringjare van 'n boom
die plooie op jou gesig
jy is steeds effens vroom
maar 'n mens hoor jou saggies sug

Soos 'n boom vas gewortel
het jy baie lewensjare voltooi
nou raak die aanslae meer fel
jou liggaam die ouderdom se prooi

Soos blare in die wind
het jou jeug weggewaai
net toe jy dink jy het jouself gevind
is die tekens van ouderdom oor jou gesaai

Soos 'n emmer melk se dik laag room
wat stoom in die winterkou
alles nou net 'n droom
oomblikke van sukses waaraan jy klou

Soos die branders van die see
wat oor die sand kom en gaan
sou jy graag alles dood vee
'n nuwe weg baan

Soos 'n wilgerboom by 'n rivier
reeds ver vooroor gebuig
geen tekens meer van jou fier
min om oor te juig

Soos 'n skilpad se waggel-loop
jy met jou skuifel-stap
reeds van jou energie gestroop
dit word op jou gesig verklap

Soos 'n stormwind wat gaan lê
is jy besig om stil te raak
wonder jy wat om te sê
eintlik maak dit nie meer saak

Soos die son in die verte wegsak
is jou lewenslus besig om te kwyn
jou liggaam nou te swak
alle hoop het verdwyn

Soos 'n gewonde dier
wag jy om te sterf
in jou laaste uur
sal jy rus en vrede verwerf

Gedig - 89 Lewe te koop

Voel jou lewe soms
soos 'n peron
wag jy op mense se koms
jy 'n groot stuk beton

Só asof almal oor jou loop
en jy het geen sê
jy word uitverkoop
maar moet geduldig lê

Hoe lank moet jy wag
totaal en al stil bly
sonder enige klag
in stilte ly

Wens jy jy was op 'n peron
om te wag vir 'n trein
onder die helder son
om vir ewig te verdwyn

Of is jy maar tevrede
om te wag vir nog 'n dag
ongeag omstandighede
sonder dat jy iets vermag

Is dit jou self opgelegde lot
waaruit jy geen uitkoms bied
agter grendel en slot
'n lewe te koop - verniet

Friday, January 28, 2011

Gedig 88 - Hartseer

Soms is my hart teer
eintlik baie seer
as ek iemand sien
wat dit nie verdien

Iemand wat saggies huil
totdat haar mond pruil
want haar hart is week
in stukke gebreek

'n Moeder hart
vol van smart
oor haar eie kind
kan sy nie vrede vind

'n Bejaarde mens
met 'n stille wens
sonder 'n maat
deur almal verlaat

'n Weggooi kind
deur die wêreld verslind
soek sy eie gesin
dikwels oor begin

'n Stukkie mens
met 'n eenvoudige wens
brood vir vandag
'n kombers vir die nag

Dan wonder my hart
hoekom al die smart
wat het dan gebeur
hoekom só baie seer

Tuesday, January 18, 2011

Gedig 87 - Bondeltjie mens

Sy sit daar langs die pad
'n klein bondeltjie mens
aalmoese sal sy vat
dit is maar haar dag se wens

Eers was sy regop en fier
'n trotse mens voorwaar
maar nou sit sy hier
deur ander se genade gespaar

Wie sal regtig weet
waar kom sy vandaan
van al haar leed
elke stille traan

Sy is nou gestroop
van waardigheid en eer
alles het verkeerd geloop
nou slaan sy haar oë neer

Nou is sy in die pad
onbelangrik en alleen
wie sal haar hand vat
saam met haar ween

Miskien is ons te groot
om haar raak te sien
'n gejaag na lewensbrood
asof ons dit verdien

Môre is dit dalk ons beurt
om langs die pad te sit
miskien is ek verkeerd
maar nogtans sal ek vir genade bid

Want diep binne in my
voel dit of dit ek is wat daar sit
reeds besig om te ly
mens sonder enige nut

En hoop ek jy gaan by my stop
my 'n drukkie gee
dat jy kan voel of my hart nog klop
jy my weer hoop kan gee

Gedig 86 - Sinkende skip

Voel dit ook somtyds vir jou
jy is op 'n skip wat besig is om te sink
en terwyl jy aan die stuur klou
begin die wanhoop wink

Die stormwater kom dreigend nader
spoel oor die dek
twyfel begin in jou binneste vergader
en jou maag wil op 'n knop trek

Jy skep die oortollige water uit
maar al hoe meer vloei in
die bemanning begin te muit
niks maak eintlik meer sin

Die skip kan weer vlot
maar alleen kan jy dit nie doen
is dit nou maar jou lot
hoe gaan jy met die werklikheid versoen

Moet jy bly totdat die skip sink
of moet jy maar afspring
hoe lank moet jy alles oordink
wat gaan dan vrede bring

Eintlik voel jy só alleen
heeltemal magteloos
wil jy net sit en ween
soos Job - net so moedeloos

Só lank op antwoorde wag
jou geloof begin weer taan
dikwels laat in die nag
stort jy 'n bedekte traan

Jy is nou reeds 'n ander mens
presies dit wat jy nie wil wees
reeds oor die verste grens
jy kan maar net die skrif aan die muur lees

Sunday, January 16, 2011

Gedig 85 - U Grootheid

Ek hoor U stem in die sagte wind
voel U teen my wang in die reën
en ek weet ek is U kind
as ek gedy in U seën

Wanneer die wind woes waai
donker onweerswolke in die lug hang
wonder ek hoekom is U kwaai
en raak ek skoon bang

Saans wanneer dit donker word
en alles rondom my raak stil
wil ek my met U grootheid omgord
my lewe rig volgens U wil

Die glans van die oggend dou
wat in druppels saamvloei
laat my met eerbied onthou
U bloed het só vir my gevloei

Tuesday, January 4, 2011

Gedig 84 Kamers van my hart

Die kamers van my hart is soms leeg
al wat dan oorbly is 'n klank só hol
soos in 'n verlate steeg
dan maak weemoed my gemoed vol

Voel ek só broos
totaal en al deurmekaar
eintlik heeltemal weerloos
voel ek om die vreemde in te vaar

Eintlik is daar net plek
in die kamers van my hart
vir hulle wat vrede wek
selfs wanneer die vyand my tart

Die kamers van my hart is dus te huur
vir elkeen wat vrede kan bring
selfs al bly jy net vir 'n uur
sal my hart weer sing

Eintlik wens ek al die kamers was só vol
van vreugde en geluk
dat weemoed sal weghol
en van vrees sal verstik

Kom tog julle wat vol vrede is
en huur 'n kamer van my hart
dat julle my gemoed kan sus
diep uit elke kamer van my hart

Sunday, January 2, 2011

Gedig 83 - Deja vu

Soms is dit só moeilik
om net jouself te wees
om altyd te skik
ten spyte van 'n ontstuimige gees

Waar het jy dan gefaal
ongelukkigheid veroorsaak
nog 'n maal
vrede versaak

Lê die fout dan by jou
al probeer jy hoe hard
om vrede te behou
lyk dit of jy boosheid tart

Dan voel jou binneste leeg
jou gedagtes verward
of alles te swaar weeg
beleef jy innerlike smart

Een tree vorentoe beweeg
twee treë terug
alles wat só swaar weeg
jy sit op 'n lewensbrug

Geluk van korte duur
vir 'n oomblik is jy bly
totdat alles weer versuur
en jy diep in jou binneste ly

Hoekom voel dit weer
asof alles herhaal
van voor af gebeur
jy weer die prys moet betaal

Terug in jou kokon
jou knus plek
weg van die son
waar jy jou wonde lek