Thursday, December 30, 2010

Gedig 82 Nuwe Jaar

Nog 'n jaar verby
einde van 'n gety
soos 'n blom verwelk
diep tot by sy kelk

Deur die dolle gejaag
het die sin van die lewe vervaag
sien ons die natuur nie raak
maak dit eintlik nie meer saak

Buite val die sagte reën
teken van God se seën
voëltjies dartel opgewonde rond
want die natuur ruik weer gesond

Wat het geword van die mens
dat ons ons vreugde só begrens
'n gejaag na wind
sodat ons nie vrede kan vind

Wanneer word ons stil
om ons gemoed weer te vul
aanskou ons die natuur
kry ons nuwe vuur

Nog 'n nuwe jaar
om op ons lewensboot te vaar
wat gaan ons doen
om met Sy wil te versoen

Monday, December 20, 2010

Gedig 81 - Kersboodskap

Herders kom van ver
volg die helder nuwe ster
met geskenke baie duur
om diė geboorte te vier

'n Kindjie klein
o só rein
neergelê in 'n krip
te nederig vir die mens se begrip

Sy nederige begin
maak tog nie sin
Hemelse Koning
in 'n aardse woning

Wonderwerke sou Hy doen
om die mens met God te versoen
min wou egter glo
Hy is gestuur van bo

Op die aarde moes Hy ly
om vir ons verlossing te verkry
Hy is gespot, gehoon
selfs deur Petrus verloën

Koning van die Jode
in beginsel verbode
aan die kruishout moes hy sterf
sodat die mens ewige lewe kan verwerf

Kerfeës-tyd moet ons nou
sy geboorte onthou
nie net 'n mooi verhaal
Hy het dan vir ons sondes betaal

Met die oopmaak van elke geskenk
moet ons Sy geboorte gedenk
dit is tog die grootste geskenk
wat ons elke jaar herdenk!

Sunday, December 19, 2010

Gedig 80 - Om te vergeet

Soms wil ons weet
hoe om te vergeet
terwyl ons dink
die hartseer nader wink

Ons is maar net mens
deur innerlike swakheid begrens
hartseer is maar deel
van dit wat 'n hart weer heel

Die oggendson kom op
kruip uit sy donker dop
totdat dit helder skyn
twyfel uit ons hart verdwyn

Onweerswolke op die horison
bedek soms die son
tog bring dit reën
teken van God se seën

Só kan ons vergelyk
totdat die twyfel wyk
môre sal nuwe dinge bring
dan sal ons hart weer sing!

Thursday, December 9, 2010

Gedig 79 - Penskets

'n Stuk is uit my hart geskeur
eintlik is dit nog baie teer
ek kon dit gisteraand weer voel
terwyl die hartseer oor my spoel

Hoe kan jy vir iemand sê
wat in jou binneste lê
sal hulle regtig verstaan
elke hartseer traan

My binneste is baie stil
eintlik voel dit half kil
terwyl ek oor alles dink
en die heimwee wink

Sal hulle ooit regtig weet
van al my bedekte leed
van elke stille traan
uit my siel se vensters gebaan

Die glimlag op my gesig
eintlik maar 'n klug
soms probeer ek maar net terg
om my hartseer te verberg

Hierdie is 'n penskets van my
wat eintlik in stilte ly
my manier om te sê
wat in my binneste lê!

Wednesday, December 1, 2010

Gedig 78 - Om te vergewe

Hoekom is dinge soms so gekompliseerd
doen mens altyd iets verkeerd
sonder dat jy dit bedoel
laat jy ander ongelukkig voel

Hoe maak jy dan weer reg
sonder om te smeek soos 'n kneg
kan jy ander laat verstaan
die weg van vrede baan

Hoe sê 'n mens jammer
sonder om jou siel stukkend te hamer
laat jy mense weet
jou bedoeling was nie verkeerd

Wanneer sal hulle vergewe
mooi dinge herlewe
met 'n glimlag opreg
wys alles is nou weer reg

Is dit dan só moeilik
om met mekaar te skik
net gemaklik te wees
ons almal een in gees