Sunday, January 30, 2011

Gedig 90 - Ouderdom

Soos die ringjare van 'n boom
die plooie op jou gesig
jy is steeds effens vroom
maar 'n mens hoor jou saggies sug

Soos 'n boom vas gewortel
het jy baie lewensjare voltooi
nou raak die aanslae meer fel
jou liggaam die ouderdom se prooi

Soos blare in die wind
het jou jeug weggewaai
net toe jy dink jy het jouself gevind
is die tekens van ouderdom oor jou gesaai

Soos 'n emmer melk se dik laag room
wat stoom in die winterkou
alles nou net 'n droom
oomblikke van sukses waaraan jy klou

Soos die branders van die see
wat oor die sand kom en gaan
sou jy graag alles dood vee
'n nuwe weg baan

Soos 'n wilgerboom by 'n rivier
reeds ver vooroor gebuig
geen tekens meer van jou fier
min om oor te juig

Soos 'n skilpad se waggel-loop
jy met jou skuifel-stap
reeds van jou energie gestroop
dit word op jou gesig verklap

Soos 'n stormwind wat gaan lê
is jy besig om stil te raak
wonder jy wat om te sê
eintlik maak dit nie meer saak

Soos die son in die verte wegsak
is jou lewenslus besig om te kwyn
jou liggaam nou te swak
alle hoop het verdwyn

Soos 'n gewonde dier
wag jy om te sterf
in jou laaste uur
sal jy rus en vrede verwerf

Gedig - 89 Lewe te koop

Voel jou lewe soms
soos 'n peron
wag jy op mense se koms
jy 'n groot stuk beton

Só asof almal oor jou loop
en jy het geen sê
jy word uitverkoop
maar moet geduldig lê

Hoe lank moet jy wag
totaal en al stil bly
sonder enige klag
in stilte ly

Wens jy jy was op 'n peron
om te wag vir 'n trein
onder die helder son
om vir ewig te verdwyn

Of is jy maar tevrede
om te wag vir nog 'n dag
ongeag omstandighede
sonder dat jy iets vermag

Is dit jou self opgelegde lot
waaruit jy geen uitkoms bied
agter grendel en slot
'n lewe te koop - verniet

Friday, January 28, 2011

Gedig 88 - Hartseer

Soms is my hart teer
eintlik baie seer
as ek iemand sien
wat dit nie verdien

Iemand wat saggies huil
totdat haar mond pruil
want haar hart is week
in stukke gebreek

'n Moeder hart
vol van smart
oor haar eie kind
kan sy nie vrede vind

'n Bejaarde mens
met 'n stille wens
sonder 'n maat
deur almal verlaat

'n Weggooi kind
deur die wêreld verslind
soek sy eie gesin
dikwels oor begin

'n Stukkie mens
met 'n eenvoudige wens
brood vir vandag
'n kombers vir die nag

Dan wonder my hart
hoekom al die smart
wat het dan gebeur
hoekom só baie seer

Tuesday, January 18, 2011

Gedig 87 - Bondeltjie mens

Sy sit daar langs die pad
'n klein bondeltjie mens
aalmoese sal sy vat
dit is maar haar dag se wens

Eers was sy regop en fier
'n trotse mens voorwaar
maar nou sit sy hier
deur ander se genade gespaar

Wie sal regtig weet
waar kom sy vandaan
van al haar leed
elke stille traan

Sy is nou gestroop
van waardigheid en eer
alles het verkeerd geloop
nou slaan sy haar oë neer

Nou is sy in die pad
onbelangrik en alleen
wie sal haar hand vat
saam met haar ween

Miskien is ons te groot
om haar raak te sien
'n gejaag na lewensbrood
asof ons dit verdien

Môre is dit dalk ons beurt
om langs die pad te sit
miskien is ek verkeerd
maar nogtans sal ek vir genade bid

Want diep binne in my
voel dit of dit ek is wat daar sit
reeds besig om te ly
mens sonder enige nut

En hoop ek jy gaan by my stop
my 'n drukkie gee
dat jy kan voel of my hart nog klop
jy my weer hoop kan gee

Gedig 86 - Sinkende skip

Voel dit ook somtyds vir jou
jy is op 'n skip wat besig is om te sink
en terwyl jy aan die stuur klou
begin die wanhoop wink

Die stormwater kom dreigend nader
spoel oor die dek
twyfel begin in jou binneste vergader
en jou maag wil op 'n knop trek

Jy skep die oortollige water uit
maar al hoe meer vloei in
die bemanning begin te muit
niks maak eintlik meer sin

Die skip kan weer vlot
maar alleen kan jy dit nie doen
is dit nou maar jou lot
hoe gaan jy met die werklikheid versoen

Moet jy bly totdat die skip sink
of moet jy maar afspring
hoe lank moet jy alles oordink
wat gaan dan vrede bring

Eintlik voel jy só alleen
heeltemal magteloos
wil jy net sit en ween
soos Job - net so moedeloos

Só lank op antwoorde wag
jou geloof begin weer taan
dikwels laat in die nag
stort jy 'n bedekte traan

Jy is nou reeds 'n ander mens
presies dit wat jy nie wil wees
reeds oor die verste grens
jy kan maar net die skrif aan die muur lees

Sunday, January 16, 2011

Gedig 85 - U Grootheid

Ek hoor U stem in die sagte wind
voel U teen my wang in die reën
en ek weet ek is U kind
as ek gedy in U seën

Wanneer die wind woes waai
donker onweerswolke in die lug hang
wonder ek hoekom is U kwaai
en raak ek skoon bang

Saans wanneer dit donker word
en alles rondom my raak stil
wil ek my met U grootheid omgord
my lewe rig volgens U wil

Die glans van die oggend dou
wat in druppels saamvloei
laat my met eerbied onthou
U bloed het só vir my gevloei

Tuesday, January 4, 2011

Gedig 84 Kamers van my hart

Die kamers van my hart is soms leeg
al wat dan oorbly is 'n klank só hol
soos in 'n verlate steeg
dan maak weemoed my gemoed vol

Voel ek só broos
totaal en al deurmekaar
eintlik heeltemal weerloos
voel ek om die vreemde in te vaar

Eintlik is daar net plek
in die kamers van my hart
vir hulle wat vrede wek
selfs wanneer die vyand my tart

Die kamers van my hart is dus te huur
vir elkeen wat vrede kan bring
selfs al bly jy net vir 'n uur
sal my hart weer sing

Eintlik wens ek al die kamers was só vol
van vreugde en geluk
dat weemoed sal weghol
en van vrees sal verstik

Kom tog julle wat vol vrede is
en huur 'n kamer van my hart
dat julle my gemoed kan sus
diep uit elke kamer van my hart

Sunday, January 2, 2011

Gedig 83 - Deja vu

Soms is dit só moeilik
om net jouself te wees
om altyd te skik
ten spyte van 'n ontstuimige gees

Waar het jy dan gefaal
ongelukkigheid veroorsaak
nog 'n maal
vrede versaak

Lê die fout dan by jou
al probeer jy hoe hard
om vrede te behou
lyk dit of jy boosheid tart

Dan voel jou binneste leeg
jou gedagtes verward
of alles te swaar weeg
beleef jy innerlike smart

Een tree vorentoe beweeg
twee treë terug
alles wat só swaar weeg
jy sit op 'n lewensbrug

Geluk van korte duur
vir 'n oomblik is jy bly
totdat alles weer versuur
en jy diep in jou binneste ly

Hoekom voel dit weer
asof alles herhaal
van voor af gebeur
jy weer die prys moet betaal

Terug in jou kokon
jou knus plek
weg van die son
waar jy jou wonde lek