Monday, March 29, 2010

Gedig 15 - Vergelding

Die oomblik van vergelding het gekom,
nou vergader hy krygers rondom hom...
Soos Saul vir Dawid beny,
wil hy ook sy deel verkry...
Die ' indringer ' sit sy voet verkeerd,
nou is dit sy beurt...
Die kans is nou,
vir die krygers se hou...
En voordat die krygers dit weet,
is hulle deel van die leed...
Is dit dan deel van God se plan,
om hom te verban...
Nou is dit moeilik om te versoen,
met dit wat hy doen...
Hulle wil hom nie aanvaar,
dit is nou eenmaal waar...
Die leier het tot baie deurgebreek,
nou kan hy hom ongesiens wreek...
Miskien sal die krygers eendag weet,
wie was nou eintlik verkeerd!

Gedig 14 - Digter se dogter

Die digter is nou verstom,
oor die woorde wat van sy dogter kom...
Hy dink hy verstaan,
wat in haar gemoed aangaan...
'n Gedig as 'n klein begin,
maak baie sin...
Sy het beslis verstaan,
wat in sy hart aangaan...
Hy is skoon verheug,
oor sy dogter se deug...
Hy is baie trots,
want sy is vir hom 'n rots...
Miskien sal hulle mekaar nog beter verstaan,
op die nuwe weg gebaan...
Al sal sy eersdaags na 'n nuwe tuiste vertrek,
sal haar woorde oor grense strek!
Hy sal haar so mis,
nou alreeds moeilik om te rus...
Liefde vir sy kind,
sal hy op geen ander plek vind...
Hy weet haar vertrek,
sal baie trane trek...
Maar hy kan haar nie keer,
sal nou maar moet leer...
Sy het die huis verlaat,
saam met haar liefdes-maat!

Sunday, March 28, 2010

Gedig 13 - Lente

Lente is hier,
iets om te vier...
Die koue verdwyn,
met die son wat skyn...
Blomme se prag,
verstom dag vir dag...
Voëls van heinde en ver,
kom soos die môrester...
Veld-diertjies kom uit,
om te soek na nuwe buit...
Mense wat saam skaar,
om in die water te baljaar...
Opgewondenheid neem oor,
hulle sing nou soos 'n koor...
Almal het gekom,
om hulself te verstom...
Want die natuur se prag,
bevestig Sy almag!

Gedig 12 - Om vry te wees

Hy hang daar in die lug,
die wit duif op sy vlug...
'n Hunkering na bo,
ek beny jou só ...
Die hemel se helderblou,
wat jou omvou...
Wens ek kon by jou wees,
sonder enige vrees...
Weg van die dolle gejaag,
om ander te behaag...
Hier op die aarde vas gekluister,
wonder of iemand na my luister...
'n Hulpgeroep na bo,
na die Vader waarin ek glo...
Dan kan ek skielik helder sien,
uitkoms wat ek nie verdien...
Hy het die wit duif gestuur,
in my moeilikste uur...
As Sy teken van vrede,
selfs in die hede...
Danksegging na Hom,
wat weer op die wolke sal kom...
Wat my sal kom haal,
om ewige vrede te behaal!

Saturday, March 27, 2010

Gedig 11 - Alleen

Vannaand voel ek weer alleen,
al is ek lank nie meer een...
Ek stap langs die strand,
en voel op die lewensrand...
Die gedruis van die branders,
laat my wonder hoekom is dit nie anders...
Onder my voete die sand,
my hart aan die brand...
Die son alreeds onder,
wat my laat wonder...
Die geruis van die wind,
laat voel my weer soos 'n kind...
'n Skulp onder my voet,
herinneringe so soet...
Water wat oor my spoel,
laat my onthou hoe ek voel...
Sterre in die lug,
liefdes-klug...
Daar breek nog 'n brander,
alles moet nou verander...
Die nag se klank,
ek sukkel nou te lank...
Die maan skyn op die water,
ek beslis nie 'n hater...
Die natuur rondom my,
hier wil ek vir altyd bly!

Friday, March 26, 2010

Gedig 10 - Josef

Hulle is baie kwaad,
het nie meer raad...
Hy is uitverkore,
hulle voel verlore...
Nou is hulle op reis,
om sy lewe op te eis...
Die mooi jong man,
uit sy ouerhuis verban...
In 'n put gegooi,
Sy bekleedsel nou rooi...
Die bloed van 'n wilde dier,
om skeiding te vier...
Wys dit vir 'n vader,
wanneer hulle hom nader...
Ons broer is verskeur,
witbroodjie nie meer...
Die hongersnood het gekom,
mensdom staan verstom...
Almal staan nader,
om in Egipte te vergader...
Een vir een stap hulle verby,
om rantsoene te verkry...
Broers buig nou neer,
voor die heer...
"Bring jul vader na my,
voordat julle verligting verkry..."
Die dag het gekom,
om hulle te verstom...
Josef is sy naam,
nou almal só skaam...
Hul gedagtes van wraak,
het hom niks gemaak...
Hy het oorleef,
want hy was in Sy plan verweef...
Nou het hy die mag,
om hulle te verag...
Tog het hy die moed,
Om hulle te vergoed...
Hulle is van voedsel voorsien,
só asof hulle dit verdien!

Gedig 9 - Angel van die dood

Die angel van die dood,
is vir die mens se verstand te groot...
Hoe sal jy vergeet,
as jy nie weet...
Waar is hy heen,
is genade verleen...
Waarom het my maat,
my dan verlaat...
Selfs 'n aardse skeiding,
veroorsaak net soveel lyding...
As die mens kon sien,
wat hy verdien...
Sal hy miskien verstaan,
die weg gebaan...
Kan alles wat ons doen,
ooit met Sy plan versoen...
Soms hou ons ons sterk,
en probeer alles self verwerk...
Net om te ontdek,
dat dit net angs verwek...
Nou is die tyd om te onthou,
dat Sy liefde ons omvou...
Die plan van die Meester,
sal ons begeester...
Want selfs die ergste pyn,
sal deur sy genade verdwyn!

Wednesday, March 24, 2010

Gedig 8 - Boemelaar in my hart

By die verkeerslig met verweerde jas,
verkrampte hande hou die hoedjie vas...
Berekende bewegings - 'n skuifel-stap,
'n paar munte koop 'n bordjie pap...
Elke dag op sy pos sowaar,
hy kry darem veels te swaar...
Sal hom maar vandag ignoreer,
sien hom mos môre nog 'n keer...
My beursie nou vasgeklem,
hoor nie die vermaning van 'n sagte stem...
Die gesig wat ek nou daar sien,
het beslis 'n aalmoes verdien...
Skaam oor my eie verlede,
ook maar 'n wankelende hede,
Moes eintlik self daar staan,
gedagtes wat my oë laat traan...
Die boemelaar in my hart,
nou besig om my uit te tart...
Dan die stem wat my laat onthou,
Hy het my met Sy liefde omvou...
Verlede vir altyd verby,
hoekom myself nou weer laat ly...
Hy het dan aan die kruis gesterf,
en só my vergifnis verwerf!

Kortverhaal - Die onwaarskynlikste feës-ganger

DIE ONWAARSKYNLIKSTE FEES-GANGER
(geskryf deur Gerhard J Goosen)
Karel parkeer sy motor ver van die ingang van die winkel-kompleks. Hy kyk rond
en sien gelukkig niemand met 'n oorbaadjie aan nie. Hy is nou regtig nie weer lus om
'n tweerand-muntstuk weg te gee vir 'n 'suurstof-dief', wat maak of hy of sy motors
oppas nie.
Hy loop in die rigting van die supermark waar hy sy daaglikse inkopies wil gaan
doen. Vir die soveelste maal sien hy hom daar sit. Met sy verweerde oorjas,
komieklike hoedjie (soos die van die kappie-kommando), half stukkende wol
handskoene (seker nou maar om hom teen die winter-koue te beskerm!), ou
verweerde skoene - wat plek-plek gapend oop is, stoppel-baard (seker nie lus om te
skeer nie,of vir die 'image') en die vervloekste blik-beker (met meer as genoeg plek
vir baie aalmoese), wat hy krampagtig in sy hande vasklou! En dan hoes hy nog met
so 'n walglike roggel geluid - genoeg om 'n mens se aandete te bederf!
So in die loop sy-stap Karel - net om seker te maak hy stap wyd genoeg verby die
'patetiese' figuur. Hy draai sy kop weg om te maak of hy na 'n voëltjie (of iets
dergliks) in die lug kyk. "Ek soek maar net 'n stukkie brood meneer," hoor hy die
stem. Hy loop net aan asof hy stok-doof is, met sy treë nou só groot, dat 'n
kameelperd trots sou gewees het op hom.
Eintlik is Karel nou rooi-warm en hy voel sommer lus om terug te stap en die
laspos so hard te klap, dat hy verlang na mense wat hy nie eers ken nie! Maar hy
bedwing hom eerder, want netnou klap hy die ding dood of doen hy die een of ander
siekte (soos vigs of iets) op! Hy is sommer lus en gaan rapporteer hom by die polisie,
want hy raak nou regtig 'n ergernis.
Hy gee mos sy tiende vir die kerk en dit is mos eintlik die kerk se werk om vir
behoeftiges te sorg! Maar hy dink in elk geval die klomp 'fat-cats' in die kerk verryk
hulleself net - sonder om aan die buite-wêreld en die nood daarin te dink.
Net nou die dag nog, het een van die vrouens by die werk vertel van die klomp
bedelaars wat nou eintlik 'n besigheid daarvan maak...
Hulle staan by die verkeersligte met hul netjiese 'casual' klere. Hulle wil nie haglik
lyk nie, maar is baie versigtig om nie die indruk te skep dat hulle eintlik welaf is nie.
Die gesigs-uitdrukking moet van wanhoop spreek. Hulle soek nie munte nie, want om
die warm son te trotseer het 'n baie hoër prys. Party van hulle het 'n kind in die arm
net om die omvang van die 'nood' te beklemtoon!
En dan is die bewoording van die karton-bord baie belangrik. Hier en daar moet 'n
woord verkeerd gespel word - net om die gebrek aan skolastiese opleiding te
bevestig. Dit is belangrik om verskoning aan te bied vir die feit dat hulle op só 'n
wyse vir geld vra, maar hulle kan nou regtig nie anders nie - met die verswakkende
ekonomie en al! En o ja, dit moet eindig met "GOD BLESS!"
Iemand het blykbaar een van hulle agtervolg aan die einde van die dag. Tot die
persoon se verbasing het die 'bord-man' geloop tot by 'n blink sport motor wat op 'n
2.
afstand in die koelte geparkeer was, waarna hy met 'n glimlag op sy gesig weggery
het.
'n Ander persoon het blykbaar vir een van die 'bord-manne' werk aangebied, waarna
hy gesê het:
"Ek maak op een dag meer hier op my pos, as wat ek met 'n week se harde werk vir
jou sal maak. So hoekom sal ek só 'stupid' wees om vir jou te kom werk!" En hy het
blykbaar daarna diep uit sy keel uit gelag.
Een vrou het verder beweer, dat sy een van die 'bord-manne' in 'n supermark
raakgeloop het. Sy hele mandjie was só vol van luukshede dat hy beslis nie na 'n
behoeftige gelyk het nie.
Nadat Karel sy inkopies gedoen het, loop hy met 'n draai om te verseker dat hy nie
weer verby die boemelaar sal loop nie. Netnou vervies hy hom en skop die vent in die
gesig!
Toe hy by sy motor kom, staan 'n vrou - met 'n oorbaadjie aan - angstig nader. Só
asof sy uit die niet verskyn het. "Ek het mooi gekyk, meester!" sê sy. Karel ignoreer
haar, klim in sy motor en skakel die enjin aan. Die vrou het blykbaar nie die
boodskap gekry nie, want sy staan met behendige bewegings vir hom en aandui hoe
hy moet uitry - só asof sy 'n verkeersman is en asof hy nog nie 'n bestuurders-lisensie
het nie. Sy is darem nie te onaantreklik nie en daarom besluit Karel maar om 'n
tweerand-muntstuk in haar hand te sit. Sy kyk in haar hand om te sien hoeveel hy
gegee het en sy lyk opmerklik teleurgesteld. Sy sê darem: "Dankie meester, geniet die
res van jou dag!"
Nadat Karel vir hom 'n geurige maaltyd gemaak het, gaan sit hy dit voor die
televisie en eet. 'n Aktualiteits program is aan en om alles te kroon handel dit oor die
stryd van oorlewing van die 'arme benadeeldes'. Karel dink: "Die nuwe regering is
nou al vir meer as vyftien jaar aan bewind, maar al die armoede en misdaad in die
land is nogsteeds die vorige 'opressive regime' se skuld. Hy wonder of hulle nou vir
ewig geblameer gaan word. Hy dink instinktief terug aan 'n voorval waar babas in 'n
bekende hospitaal oorlede is. Die vorige regering is toe, na ál die jare, geblameer,
omdat toestande in dié hospitaal presies dieselfde was as toe hulle aan bewind was!"
Hy vervies hom sommer bloediglik en gaan klim maar in sy bed om te slaap. Al
hierdie dinge maak hom sommer lewens-moeg!
Karel val sommer dadelik aan die slaap. Hy rol later onrustig rond. Hy droom...
Hy sien homself waar hy in 'n groot oop ruimte stap. Hy sien 'n ongelooflike groot
tafel. Dit is só groot dat 'n mens nie die einde daarvan kan sien nie! Op die tafel is 'n
feesmaal uitgepak. Hy het nog nooit só baie lekker kos bymekaar gesien nie. Die
borde is van helder deurskynende glas gemaak. Al die eetgery is goud-kleurig. Die
tafel en die stoele is met helder-wit materiaal ge-drapeer. Aan die punt van die tafel
sit 'n persoon in 'n wit gewaad. 'n Mens kan nie sy gesig sien nie. Sy hele gewaad is
3.
omring deur 'n helder skynsel. Dit is duidelik dat hy die banket-meester is.
Die volgende oomblik begin die fees-gangers binnekom. Hulle het almal helder-wit
bekleedsels aan, en die geluk is op hulle gesigte sigbaar. Elkeen gaan sit op sy plek
by die tafel. Hy sien baie bekendes.
Die vriendelike dame, wat hom gewoonlik by die kasregister in die supermark
bedien, is daar. Hy sien ook van die gemeente lede van sy kerk. Die vrou wat haar
elke Woensdag by die sop-kombuis afsloof is ook daar. Dit verbaas hom eintlik dat
baie van die voorbokke in hulle kerk nog nie hul opwagting gemaak het nie. Hy sou
juis verwag het dat hulle eerste moes inkom en dat hulle die naaste aan die banketmeester
moes gaan sit het. Hulle gee dan só muldelik aan die kerk, en is dan altyd die
voorlopers!
Die fees-gangers het een vir een binne-gestap en hy was ál hoe meer verbaas oor
wie hulle was. Op die ou end was daar net een stoel oor. Hy wou nader stap om te
gaan sit, maar merk toe op dat daar 'n onoorbrugbare groot gaping tussen hom en die
fees-tafel was.
Toe die laaste fees-ganger inkom, was hy die mees onwaarskynlikste van almal.
Karel herken hom amper nie. Sy gesig is glad geskeer en daar is 'n helder glans in sy
oë. Hy het sy verslete boemelaars-jas verruil vir 'n blink nuwe kleed. Hy hoes nie eers
meer nie en hy lyk blakend gesond. Hy gaan staan vir 'n oomblik stil en kyk reguit na
hom. Hy het 'n sagte glimlag op sy gesig - amper só of hy iets wil sê. Eintlik hoef hy
nie iets te sê nie! Hy draai om en gaan neem sy plek in, aan die regterhand van die
banket-meester. 'n Helder lig straal oor hom.
Karel kyk af en sien vir die eerste keer die verweerde klein tafeltjie met die half
stukkende stoel wat naby hom staan. Hy sien 'n karton naambordjie met sy naam
daarop geskryf. Al wat op die tafeltjie staan is 'n gekraakte bord met 'n stuk droë
brood daarop. Langs die bord staan 'n verweerde blik-beker vol sop!
Die volgende oggend skrik Karel met 'n natgeswete lyf wakker. Sy klere is só nat,
dat hy dit met sy hande sal kan uitdroog. Hy spring in die bad en was hom skoon. Hy
kan nie gou genoeg sy klere aantrek nie. Met sy beursie in sy hand jaag hy na die plek
waar die boemelaar gewoonlik sit. Hy moet gaan regmaak! Hoe kon hy dan so 'blind'
gewees het!
Hy sit nie op sy plek nie en Karel begin vrees-agtig navrae doen. Gelukkig kan die
motorwag, wat die vorige dag sy motor opgepas het, vir hom sê waar die boemelaar
slaap. Hy druk sommer 'n honderdrand-noot in haar hand en sy kyk hom met
verbasing aan. "Baie dankie meester!"skree sy agter hom aan.
By die parkie, waar die boemelaar (volgens die motorwag) gewoonlik slaap, vind
Karel hom waar hy opgekrul lê - onder 'n oopgebreekte karton-doos. Hy probeer hom
wakker maak, maar sy liggaam is stokstyf en leweloos. In sy linker hand is die blikbeker
vasgeklem en in sy regter hand 'n klein sak-Bybeltjie.
Karel lees die gedeelte waarby die Bybel ooplê en sy oë gaan staan stil by Mattheus
25: 40 "Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die
4.
geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen."
Hy gaan sit op sy knieë by die lewelose liggaam en begin om hartverskeurend te
huil...
**********
OOR DIE SIMBOLIEK VAN DIE VERHAAL:
Ons is dikwels gou om te oordeel en om te soek na allerhande verskonigs om ons
beursies vir dié wat vra, toe te hou. Eintlik moet ons eerder vra wat Hy sou gedoen
het, as Hy in ons situasie was! Sal ons eendag aan die fees-tafel sit? Moet ons nie
juis nou iets aan die situasie doen, voordat dit vir altyd te laat is nie? Ons doodskleed
gaan in elk geval nie sakke hê nie. En dit wat ons op aarde het, is maar net aan ons
geleen. Ons is maar net die rent-meesters daarvan!

Tuesday, March 23, 2010

Kortverhaal - Agter die eensaamheid

AGTER DIE EENSAAMHEID
(geskryf deur Gerhard J Goosen)
Die son skyn warm deur die kamervenster. Lodewyk draai om in sy bed en wonder
of hy vandag moet opstaan. Hy hoef eintlik nie op te staan nie, want soos elke oggend
van die laaste vyf jaar het hy niks om te gaan doen nie. Hy het geen
verantwoordelikhede teenoor enigiemand nie. Om alleen te wees is vir hom 'n keuse.
Met die laaste gedagte raak hy weer aan die slaap...
Net voor middagete raak Lodewyk weer wakker. Hy word bewus van die hongerte
oor sy maag en staan traag op. Hy gaan na die badkamer en kyk na homself in die
spieël. Sy lang rooi baard het nog nie 'n enkele grys-haar in nie. In sy familie wys die
ouderdom nie vinnig nie, en op agt en dertig voel hy nie oud nie. Sy blou oë getuig
van hartseer. "Hoe lank nog?" wonder hy.
Toe hy homself gebad het, stap hy na die kombuis en begin vir hom 'n groot laatontbyt
aanmekaar slaan. Sy ma sou dit 'n "English breakfast" genoem het. Hy is glad
nie skaam toe hy moet besluit hoeveel repe spek om vir homself gaar te maak nie,
geld is nie 'n probleem nie en hy het in elk geval nog nooit sy sente omgedraai sedert
hy hier woon nie. Die rakke in sy kruideniersware-kas buig eintlik onder die gewig
van al die kos en sy yskas is so vol dat daar beswaarlik plek is vir enigiets anders.
Maar dit is hoe hy dit wil hê.
Nadat hy gesmul het aan sy maaltyd, was hy die skottelgoed. Nou het hy sy
belangrikste dagtaak afgehandel. Al woon hy alleen, gaan hy homself beslis nie laat
honger ly nie!
Hy gaan sit op die stoep van sy houthuis en staar oor die vertes van die see. Sy
gespierde bolyf skyn goudbruin in die warm son. 'n Tortelduif kom sit op die rand
van die balkon se houtreëling. Toe hy die huis teen die skuinste gebou het, het hy
verseker dat die balkon hoog genoeg gelig is, dat hy tot ver oor die see kan uitstaar. 'n
Mens hoor net die sonbesies se skel geluid en die ge-koer van die tortelduif, wat
Lodewyk ondersoekend aankyk. Die tortelduif wag elke dag net tot hy op die stoep
kom sit en dan kom sluit sy by hom aan. Sy verseg om weg te vlieg voordat hy
opstaan en in die huis ingaan. En dan wens hy hy het vlerke gehad om saam met haar
weg te vlieg. Dit verbyster hom eintlik dat die duif altyd hier aankom wanneer hy op
die stoep kom sit. Het sy dan nie 'n maat nie? As sy kon praat sou sy seker haar
diepste hartsgeheime met hom gedeel het. Hulle is eintlik al soos ou vriende, wat niks
meer het om vir mekaar te sê nie!
Lodewyk staan op en loop af na die strand toe. Hy voel hoe warm die sand onder sy
voete is, en stap instinktief na die see se water-lyn. Hy begin draf op die klam sand en
asem die vars lug tot diep in sy longe. Nadat hy omtrent veertig minute gedraf het,
draai hy terug. Hier is dit net hy en die natuur. En die alleenheid. Hy het eintlik geen
benul aangaande die wêreld-gebeure nie. Hy lees nie 'n koerant nie, besit nie 'n
televisie-stel nie en luister nie na die nuus op sy radio nie. Die buite-wêreld gaan hom
2.
nie aan nie. Die gedruis van die branders is vir hom ewe aan die gedruis in sy
gemoed.
Die opstand in sy gemoed woed nou al vir vyf jaar lank. Hoe kon God dit toegelaat
het? Hy is nie net kwaad vir die mensdom nie, hy is sommer kwaad vir die
Opperwese ook. Al wat hy ooit begeer het, was geluk en vrede. En dit was nie vir
hom beskore nie! Daarom het hy besluit om hom van alles en almal te distansieer.
Gelukkig kom daar nooit iemand op hierdie afgeleë strand nie. Dit is soos sy eie
eiendom - wat hy vir homself toege-eien het. Hy het al gewonder wat hy sou doen as
iemand dit ooit sou waag om 'n voet op 'sy' strand te sit. Dan laat sy gedagtes hom
eintlik ril. 'n Mens kan hom eintlik vergelyk met 'n leeu wat sy beheer-area afgemerk
het en wat enige indringer sal verskeur. Hy het sy kleim afgesteek op 'n afgeleë strand
waar hy alleen kan wees. Die stads-lawaai is vir hom soos 'n vae gedagte. Nooit wil
hy weer deel daarvan wees nie. Mense stel gewoonlik net teleur. En hy sal nie
sommer weer iemand vertrou nie. Die spreekwoord sê mos - 'die makste honde byt
die seerste!' En hy was al baie 'gebyt' - juis omdat hy mense so maklik vertrou het.
Die eerste paar jaar van sy self opgelegde kluisenaar-skap, was nogal moeilik. Hy
het in die verlede vir mense gesê dat hy nooit alleen sal kan wees nie. Hy het selfs
gespot en gesê dat sy nuwe verloofde reeds aan sy sy sou wees wanneer hy sy vrou
begrawe. Maar hy is eintlik, ongeag van wat mense gedink het, soos 'n tortelduif wat
in sy lewe net een maat sal hê - tot die dood hulle skei! Hy het geglo dat hy daardie
maat ontmoet het en dat hulle vir altyd bymekaar sou wees. Min het hy geweet hoe
anders dinge sou uitwerk. Dat hy nou alleen sou wees.
Hy kan die dag wat hy haar ontmoet het, nog soos gister onthou...
Dit was 'n helder somers-oggend in die 'Jakaranda stad'. Hy het op 'n drafstap na die
naaste kafee geloop om melk en brood te gaan koop om vir homself ontbyt te maak,
voordat hy moes gaan werk. Hy het te vinnig om die hoek van die winkel-kompleks
gekom en hy het haar onderstebo geloop. Hy het self sy balans verloor en het reg boop
haar geval. Op daardie oomblik was hulle gesigte so naby aan mekaar dat hy haar
asemhaling teen sy gesig kon voel. Hy het vir 'n oomblik verstar bo-op haar bly lê en
kon die kurwes van haar liggaam onder hom voel. Sy hele liggaam het skielik soos
jellie gevoel. En dit het beslis nie enigiets met die onverwagte botsing te doen gehad
nie. Haar vars reuk het hom onverhoeds betrap en sy hart het in sy keel geklop.
Sy het hom met 'n sagte glans in haar oë aangekyk en het gevra: "Gaan jy nou so
bo-op my bly
lê? Ek is nogal haastig - weet jy!" Die hees klank van haar stem het hom onmiddellik
opgeval. Hy het verleë opgespring en het haar hand in syne geneem om haar op te
help. Haar ferm greep het hom verbyster. Hulle het mekaar vierkantig in die oë gekyk
en vir 'n oomblik het dit gevoel of daar 'n onsigbare band tussen hulle was. 'n Mens
kon die stilte met 'n mes sny. Hulle het altwee besef dat dit 'n oomblik soos dit was,
waaroor daar gewoonlik in boeke geskryf word.
"Ek is baie jammer! Ek het nie..." het hy begin. Sy het hom in die rede geval en het
3.
gesê: "Dit maak regtig nie saak nie! Sulke dinge gebeur maar. Dit is die verloop van
die lewe." Sy het hom aan die arm geneem en het hom 'n sagte drukkie gegee - as
teken dat alles in orde was. Daarna het sy omgedraai en deel van die mense op die sypaadjie
geword.
Die res van die dag kon hy aan niks anders dink nie. Hy het hom telkens verbeel hy
voel weer haar asemhaling teen sy gesig. En elke keer sien hy weer haar helder-blou
oë in sy gedagtes!
Die volgende dag is hy inderhaas na die plaaslike hospitaal se ongevalle afdeling,
nadat hy 'n onuithoudelike pyn in sy regtersy ondervind het. Hy het verneem hy het
nierstene en is onverwyld in die hospitaal opgeneem.
Hy was nog half bedwelm van die inspuiting wat hy vir pyn gekry het, toe hulle
hom later die middag in die teater ingestoot het. Almal in die teater het nogal
komieklik vir hom gelyk met hul blou oorpakke en maskers en hy moes moeite doen
om sy lag onder bedwang te hou.
Op daardie oomblik het hy na sy asem gesnak. Bokant een van die maskers het hy
dieselfde blou oë van die vorige dag gesien. Hy kon duidelik die onreëlmatigheid van
die hart monitor waaraan hulle hom gekoppel het hoor. " Is jy 'ok' ?" het die uroloog
wat die operasie sou uitvoer gevra. "Moet jou nie bekommer nie - jy is in goeie
hande!" het hy vervolg. Hy het net geknik, want die knop in sy keel was te groot om
'n woord uit te kry.
Sy het dieselfde sagte uitdrukking in haar oë gehad en hy het weer die ferm druk
van haar hand gevoel toe sy begin om die inspuiting toe te dien om hom onder
narkose te plaas. "Jy moet lekker slaap," het sy met haar hees stem gesê - net voordat
hy weggeraak het...
Lodewyk het later in sy hospitaalbed wakker geword en sy gedagtes was net by
haar. "Wat is die kanse nou dat hy haar twee dae na mekaar op sulke onwaarskynlike
plekke sou raakloop?(letterlik en figuurlik)," het hy gelê en wonder. Hy dink aan die
onstuimigheid van sy hartklop toe hy haar in die teater opgemerk het - tot sy
verleentheid. Haar aanraking , voordat sy hom onder narkose geplaas het, het hom
bygebly! Soos die van 'n engel uit die hemel. Met dié gedagte het hy weer aan die
slaap geraak...
Omstreeks tien uur die volgende dag het die uroloog hom uit die hospitaal
ontslaan. Met die moderene tegnologie kon hulle die nierstene met lasar-strale
stukkend skiet en het dit op daardie stadium vir Lodewyk gevoel of hy perdfris was.
Die pyn wat hy die vorige dag in sy regtersy ondervind het, was toe net 'n vae
gedagte. Al waaraan hy toe kon dink, was twee helder-blou oë(soos twee poele
aanloklike water op 'n warm somers-oggend), 'n warm asemhaling teen sy gesig(soos
'n welkome warm windjie wat die winter-koue verdryf), die verruklike vars
reuk(soos die van 'n blomtuin) en 'n hees stem(soos die van 'n engel).
Hy was alleen in die hysbak oppad na die grondverdieping. Toe dit op die derde
verdieping oopgegaan het,het sy binne-gestap. Sy het haar wit oorjas aangehad en
4.
haar stetoskoop het om haar nek gehang. Haar blou oë het hom onmiddelik
vasgevang. Hy moes sy oë behoorlik van haar blik wegskeur om na haar
naamplaaitjie te kyk en te lees: "Dr Linda Malan". Haar glimlag het duidelik die
kuiltjies langs haar mondhoeke beklemtoon, toe sy haar hand na hom toe uitsteek en
sê: "Noem my Linda, ten minste lê jy darem nie vandag bo-op my of op 'n teater-tafel
nie!" Hy het haar hand in syne geneem en homself aan haar voorgestel. Die ferm
handdruk van die vorige dag, het nou in 'n warm sagte handdruk verander. En haar
vroulikheid het hom betower. "Lus vir koffie?" het sy gevra. En hy het onverwyld
bevestigend geantwoord.
Hulle het vir bykans 'n uur in die hospitaal se kafeteria gesit en gesels, asof hulle
mekaar al vir jare geken het. Dit was asof hulle op die aarde geplaas was, met die
uitsluitlike doel om mekaar te ontmoet. Hulle het dieselfde belangstellings gehad en
om alles te kroon, het hulle in dieselfde woonstelblok gewoon sonder dat hulle van
mekaar se bestaan bewus was. Voordat sy die tafel verlaat het om haar rondtes in die
hospitaal te doen, het sy hom genooi om dié aand by haar te kom eet.
Stiptelik om agt-uur het hy aan haar woonstel se deur geklop. Toe sy die deur
oopmaak, het hy hoorbaar na sy asem gesnak - en hy kon die goedkeuring in haar oë
sien. Haar lang blonde hare het losweg oor haar skouers gehang. Haar oë het nog
blouer gelyk en haar glimlag het haar helder-wit tande vertoon. Sy het 'n skouerlose
lig-blou kniehoogte rok aangehad. Haar soepel bruingebrande skouers het amper sy
aandag van haar halslyn afgetrek, maar toe sy oë op die welgevormde kurwes van
haar bolyf tot stilstand gekom het, moes hy hom inspan om hulle verder te beweeg.
Sy oë het na haar bene beweeg en haar kuite se soepel vorm het hom opgeval. Haar
kaal voete was vir hom pragtig(eintlik was hulle volmaak).
Hulle het 'n geurige maaltyd by kerslig geniet. Die rooi-wyn wat sy voorgesit het,
het vinnig na sy kop gegaan(of was dit haar magiese teenwoordigheid wat hom so
bedwelm het?) Sy was beslis die vrou van sy drome. Aan die einde van 'n verruklike
aand het sy hom saggies op sy lippe goeie-nag gesoen. En haar reuk het by hom gebly
totdat hy veel later in sy bed aan die slaap geval het.
Na daardie aand het hulle as 'n gereelde instelling vir mekaar kos gemaak en hulle
het oor en weer gekuier. Hulle het on-afskeibaar geword en is presies drie maande na
hulle ontmoeting in die huwelik bevestig.
Hul huweliksnag het hulle saam in 'n hotel deurgebring. Omdat sy haar nie kon
losmaak van haar verpligtinge by die hospitaal nie, het hulle maar besluit om presies
'n jaar later 'n laat-wittebroods vakansie te neem.
Die nag in die hotel was egter uitsonderlik. Hulle het vroeg in hul verhouding
besluit dat hulle tot hul huweliksnag sou wag, voordat hulle intiem sou verkeer,
omdat dit vir hulle albei hul eerste keer sou wees. Hy het bo-op die bed vir haar gelê
en wag terwyl sy haar in die badkamer vir hom gereed gemaak het. Net die nagligte
was in die kamer aan. Toe sy na hom toe aangestap gekom het, kon hy die kurwes
5.
van haar liggaam duidelik deur haar satyn nagklere sien. Sy het haar nagrok oor haar
skouers laat gly en dit het tot op haar enkels gesak. Haar ferm borste was volmaak.
Sy het die piep-klein broekie, wat sy onder die nagrok aangehad het, ook uitgetrek.
En sy het net daar gestaan om hom die geleentheid te gee om haar naakte liggaam in
die sagte glans van die nagligte te aanskou. Dit was die eerste keer wat hy haar
sonder klere gesien het, en die wag was beslis die moeite werd. Sy was pragtig. En sy
was syne.
Hy het die kortbroek wat hy aangehad het, van sy liggaam afgeruk en sy het saggies
op die bed langs hom kom lê. Hulle het mekaar innig gesoen en het daarna mekaar se
liggame stukkie vir stukkie ontdek. Die volmaakte samesmelting van hulle liggame
was voltooi, toe hul liefde soos opgehoopte waterstrome, wat deur damwalle gebreek
het, oor mekaar gespoel het...
Lodewyk was oorstelp oor die volmaaktheid van hul liefde en hul tyd saam. Elke
dag was vol van nuwe beloftes. Hulle kon nie genoeg van mekaar kry nie. Hulle het
nader en nader aan mekaar beweeg. Elke dag wanneer sy klaar haar pasiënte gesien
het en wanneer hy klaar gewerk het, het hulle hulle na mekaar gehaas. Dan het hulle
klere oor die hele woonstel verstrooi gelê, soos hulle dit koorsagtig van hulle liggame
afgeruk het om weer en weer te streef na oomblikke van volmaakte eenheid. Die
momentum van die heerlike voor-spel het met rasse skrede toegeneem. En hul liefde
het by elke geleentheid meer en meer deur hul liggame gespoel.
Haar swangerskap het die volmaaktheid van hul liefde bevestig. Dit was eintlik die
seël op hul liefdesband. En hulle was altwee oorstelp van vreugde!
Soos hulle ooreengekom het, het hulle presies 'n jaar nadat hulle getroud is, op
hulle laat-wittebroods vakansie vertrek. Gelukkig was haar swangerskap in 'n vroeë
stadium en hulle het per vliegtuig na 'n bekende tropiese eiland gereis.
Hulle verblyf was idillies en hul liefdes-reis het daagliks voortgeduur.
Tot daardie dag - die dag voordat hulle huis-toe moes vertrek. Sy het solank vir
hom gewag in die restaurant waar hulle middagete sou geniet het, terwyl hy vir haar
'n spesiale geskenkie gaan koop het, by 'n nabygeleë winkeltjie wat snuisterye
verkoop. Die twee wit porselein duiwe, wat onafskeibaar aanmekaar verbind was,
was vir hom die versinnebeelding van hul liefdesband. Hy het dit vir haar gekoop en
die eienares van die winkel het dit keurig vir hom verpak. Oppad terug na die
restaurant waar sy vir hom gewag het, het hy die Here gedank dat Hy hierdie
wonderlike vrou vir hom gegee het en vir die volmaaktheid van sy lewe.
Die volgende oomblik was daar 'n oorverdowende slag wat die aarde geruk het. Die
impak van die slag het hom van sy voete af geruk en hy het soos 'n vrot vel deur die
lug getrek. Toe hy tot verhaal kom, het hy gesien sy linkerhand was stukkend gesny.
In sy hand het die twee porselein duifies in afsonderlike stukke gelê.
Hy het hom na die restaurant waar Linda vir hom gewag het gehaas. Toe hy daar
kom, was hy met afgryse vervul. Waar die voordeur 'n rukkie vantevore was, was net
een groot gaping. Orals het stukkende mense verstrooid gelê. Hy het naarstigtelik
6.
rondgekyk en toe sien hy haar, waar sy skuins onder 'n tafel lê. Hy het by haar
stukkende liggaam gaan kniel en sy het haar bloeiende hand op haar maag gesit. Haar
gesig was pik swart en verskroei. Haar helder-blou oë het na hom gekyk en hy kon
die vrees daarin sien. Hy het haar bloeiende hand in syne geneem en het dit styf
vasgedruk. Hy het vooroor gebuk en het haar op haar verskroeide lippe gesoen. 'n
Traan het oor haar wang gerol en hy het vir oulaas in haar oë gekyk. Daarna het sy
haar blou oë vir altyd toegemaak. Lodewyk het hartverskeurend begin huil en hy het
haar lewelose liggaam styf in sy arms vasgedruk. Daarna het hy een van die porselein
duifies in haar linkerhand toegevou.
Die volgende oomblik word Lodewyk deur 'n hees stem uit sy gedagtewêreld tot die
werklikheid teruggeroep. Hy knip sy oë om seker te maak hy sien reg. Sy staan daar
in haar ligte-blou somersrok en haar bruingebrande bene glinster in die son. Haar
lang blonde hare hang losweg oor haar skouers. Haar volmaakte kaal voete vang
dadelik sy oë. Sy kom nader gestap en steek haar hand na hom toe uit om haarself
voor te stel. "Hi, ek is Lana," sê sy. Hy kyk in haar helder-blou oë en sy sien sy
ongeloof. "Jy sal my nie ken nie, maar ek is Linda se tweeling suster," vervolg sy.
"Ons is by geboorte van mekaar geskei en sy het nie van my bestaan geweet nie. Ek
het self ook nie geweet dat ek 'n aangenome kind was nie, en het dit eers by my
aanneem ma verneem toe sy op sterwe gelê het. Ek het eers onlangs uitgevind dat ek
'n tweeling suster gehad het. Met my navrae om haar op te spoor het ek van die
bomontploffing en van haar dood verneem. Dit het altyd vir my gevoel asof daar 'n
gemis in my lewe was. Ek het jou kom opsoek omdat jy die enigste oorblywende
skakel met haar is. Ek hoop nie jy gee om dat ek gekom het nie!"
Lodewyk skud sy kop en nooi haar na sy huis toe. Hy is verstom oor die feit dat sy
op 'n haar na, na Linda lyk. Toe sy met haar linkerhand beduie sien hy vir die eerste
keer die klein tatoeëer-merk van 'n duif op die rugkant daarvan.
Toe hulle op die stoep van sy huis kom, kom die tortelduif vanuit die niet nader
gevlieg. Sy gaan sit op Lana se linkerskouer en begin saggies koer. Die tortelduif kyk
na Lodewyk en gaan sit op sy linkerskouer. Dit is die eerste keer wat die duif dit
waag om naby hom te kom. Só of sy geweet het sy moes tot vandag wag.
Lodewyk verstaan skielik en kyk hemelwaarts."Dankie liewe Heer!" prewel hy. Hy
kyk in Lana se helder-blou oë en sy hartseer vervaag. Sy vat hom aan die arm en hy
voel haar ferm greep. Toe sy glimlag sien hy die kuiltjies langs haar mondhoeke.
Die tortelduif vlieg weg op haar laaste vlug...
**********
OOR DIE SIMBOLIEK VAN DIE VERHAAL:
Ons weet nie altyd hoekom ons hemelse Vader toelaat dat dinge gebeur wat ons nie
7.
kan verstaan nie. Hy het egter altyd 'n manier om ons te vertroos. Somtyds neem dit
langer as wat ons verwag, dikwels juis omdat ons nie gereed is om Sy stem te hoor
nie!

Gedig 7 - Liefdesgedig

Onthou jy nog die aande,
wat strek oor soveel maande...
Liefde wat bloei,
al sou die stormwinde loei...
Knus voor die kaggelvuur,
warm tot middernag-uur...
Vingers inmekaar gestrengel,
kole wat in die hitte klengel...
Lippe smelt saam,
nou glad nie meer skaam...
Tonge wat ontmoet,
die gevoel van saamwees versoet...
Die samesmelting al woester,
Twee harte wat koester..
Liggame begin bewe,
waarin vanaand begewe...
Nou 'n algehele oorgawe,
liggame nou tesame...
Gesamentlike strewe,
lei tot nuwe lewe...
Uiteindelik die algehele genot,
van liefde wat vlot!

Gedig 6 - Nuwe lewe

Vanoggend voel sy baie moeg,
vandag moet sy weer swoeg...
Haar rug nou al seer,
want die gewig raak al meer...
'n Lewe wat groei,
gedagtes wat broei...
Deur haar geliefde verlaat,
nou is sy sonder 'n maat...
Wat sal sy nou doen,
te moeilik om te versoen...
Geen toekoms meer,
net 'n gevoel van hartseer...
Sy sal self moet werk,
om haar bankbalans te versterk...
Geboorte wat wag,
miskien in die nag...
Skielik die ongelooflike pyn,
watervloed verskyn...
Die sametrekkings vermeerder,
daarna is die pyn weer beter...
Nou lê sy oopgevlek,
niks kan haar bedek...
'n Koppie verskyn,
en die pyn verdwyn...
Opwinding neem oor,
toe sy die kindjie hoor...
'n Moederhart nou bly,
oor nuwe lewe verkry...

Gedig 5 - Natuur

Warm skyn die son,
die aarde se energie bron...
Sonbesies se skril geluid,
dring deur elke huid...
Voëltjies wat kwetter,
rivierwater wat kletter...
Blomme wat bloei,
as teken van gesonde groei...
'n Spinnekop se web gespan,
is deel van sy plan...
Kos moet hy kry,
al moet 'n ander insek ly...
Die een se dood,
is mos die ander se brood...
Die vleisvreters lê en wag,
dikwels tot laat in die nag...
Die geduldige wagter,
word later die jagter...
Dan kan hy verslind,
want hy het 'n maaltyd gevind...
Aasvoëls hang daar rond,
om die eet-kringloop af te rond...
Wanneer die sonlig verdwyn,
begin die maan te skyn...
Vlermuise vlieg nou laag,
want hulle word deur donkerte behaag...
'n Naguil kondig aan,
vanaand is nuwe maan...
Die natuur gaan sy gang,
'n veldmuis sing sy swanesang!

Gedig 4 - Wanhoop

Haar gesiggie bly my by,
die mooi kind wat ly...
Sy sit daar in haar stoel,
eers stil en dan begin sy woel...
Van die kerkgangers kyk al om,
sy sê niks, want sy is stom
Dan begin sy te kerm,
haar moeder se hand nou ferm...
Die geluide maak nie sin,
maar kans op stilte is nou min...
Die wag is te lank,
nou is dit net die klank...
'n Hulpgeroep soos min,
het nou eers begin...
Die genesing bediener hoor,
maar hy roep haar nie na voor...
Sy rituele vat te lank,
en dit oorskadu die klank...
'n Hulpgeroep verniet,
vir 'n gesin in verdriet...
Hulle moes toe maar vertrek,
geen gebed het hemelwaarts gestrek!

Gedig 3 - Verlore seun

Vader ek neem my erfdeel gou,
want die tyd om te vertrek is nou...
Lank die pad na die land van melk en heuning,
sonder 'n vader se ondersteuning...
Omring deur vriende nuut gevind,
wat hulle gou aan hom verbind...
Nou het die rykdom verdwyn,
asook vriende se samesyn...
Alleen en verlate is hy,
almal stap verlangs verby...
Die varke se peule lyk nou heerlik,
wêreld se liggies nie meer so begeerlik...
Sy vader se huis lyk nou weer,
na die plek om na terug te keer...
Want daar het selfs slawe,
'n veilige hawe...
Selfs al is hy nou half kaal,
sal sy vader hom kom haal...
Die vetgemaakte kalf word nou geslag,
want 'n vader het lank gewag...
Sy broer is baie kwaad,
oor die feësvieringe van huis en haard...
Die verlore seun is terug,
met 'n nuwe kleed oor sy rug....
'n Vader sal altyd vergewe,
en die deur oopmaak vir nuwe lewe...
Al die ou dinge nou verby,
Vader se seun weer aan Sy sy

Gedig 2 - Herlewing?

Die dienste het begin,
bedoel vir elke gesin...
Herlewing wil hy hê,
maar nou moet elkeen sê...
Staan hul nou sterk,
vir God se werk...
Hulle hande na bo,
As teken dat hul in herlewing glo...
Die mense wat kom,
verwag wonderwerke van hom...
Dienste word langer,
om tyd te maak vir hom as sanger...
Die kerk raak nou leeg,
die verwagting het te swaar geweeg...
Die prediker nie meer so sterk,
want hy wil nou vertrek...
Hy word amper gedwing,
om 'n gebed te bring...
Seker nou moeg,
van al die geswoeg...
Na sy vertrek,
weer 'n leë kerk...
Waar is die herlewing,
Ons hoop maar op vergewing!

Gedig 1 - Golgota

"Kruisig Hom!" is die uitroep,
van 'n opgesweepte groep...
Hulle wil hê Sy bloed moet vloei,
want dit is onheil wat nou broei...
Nou word Hy gegesel,
dit ruk tot in die vesel...
Dan volg die doringkroon,
alles deel van die vertoon...
Geen aardse woning,
vir die Hemel Koning...
Die purper kleed,
dra by tot Sy leed...
Selfs deur Petrus verraai,
voor die haan drie maal kraai...
Nou moet Hy die kruis dra,
Op Sy weg na Golgota...
Die beker gaan Hom nie verby,
om uitvoering van die skrifte te verkry...
Spykers word deur Sy hande en voete geslaan,
sodat die mensdom nie sal vergaan...
Die kruishout wat op die heuwel staan,
om vir diė wat glo 'n weg te baan
Die sonsverduistering,
veroorsaak 'n fluistering...
Hy was Heer,
maar nou leef Hy nie meer...
Die swaard in Sy sy,
verkondig dat Hy nie meer ly...
'n Leë graf is die teken,
van sonde nie meer gereken!