Wednesday, May 16, 2012

Gedig 111 - Wit duif


'n Wit duif
het met sy vlerke kom wuif
'n teken van bo
wat my weer laat glo

'n Wit duif
het die twyfel kom verdryf
nuwe hoop gebring
my hart weer laat sing

'n Wit duif
het my vandag laat snuif
my saggies laat huil
in my hart kom skuil

'n Wit duif
het my vaarwel gewuif
my gelaat met nuwe hoop
waarvan my binneste oorloop


Tuesday, May 8, 2012

Gedig 110 - DANKIE - Waarvoor?


Waarvoor sê ek dankie
elke nuwe dag
- 'n kleine klankie
met blydskap in pag

Vir die sonskyn wat my begroet
die sagte wind wat waai
vir Hom wat my in my slaap behoed
terwyl onreg rondom my draai

Vir 'n bord vol kos
'n koppie warm tee
wat my van my honger verlos
my nuwe krag gee

Vir die bed waarop ek slaap
onder 'n warm wol-kombers
terwyl ander raap
na 'n harde karton-kombers

Vir die voorreg om te leef
elke asemhalings-teug
'n liggaam aanmekaar geweef
bestem vir lewens-vreug

Ek sê dankie - bowenal
vir hierdie gedig
wat uit my gedagtes beval
my bevry van lood-swaar gewig








Sunday, March 11, 2012

Gedig 109 - Die donker rondom my


Steeds is ek bang vir die donker
as die skaduwees van gister begin verskyn
ek na beter dae hunker
my vreugde wil verdwyn

Soms bevind ek my in 'n grot
sonder lig
wanneer vrees my omgord
met geen uitgang in sig

Dan wens ek dit was anders
dat ek weer iets kan wees
weg uit die losgemaal van die branders
iemand met 'n ewige positiewe gees

Partykeer raak die monster binne in my wakker
voel dit of hy my lewe wil oorneem
die bitter, hartseer beker
my van al my vrede ontneem

Die lewensberg lyk tog só hoog
terwyl ek sukkel om na bo te klim
as alles binne in my begin betoog
en ek wens ek was lewens-slim

Onweersdae maak my gemoed swaar
as ek na die donker wolke kyk
en innerlike heimwee ervaar
swaarmoedigheid net nie wil wyk

Die helder maan daar buite
laat die donkerte in my gemoed kwyn
deur my siel se ruite
totdat die onreg verdwyn

Weldrae sal die son weer skyn
helder binne in my
dan kan niks my meer ondermyn
sal vreugde begin gedy

'n Nuwe dag
bring hoop vir my siel
ongekende nuwe krag
my binneste deur verwagting besiel



Friday, March 9, 2012

Gedig 108 - Veldmuis vertel


Ek sien 'n vaal veldmuis
reg langs my huis
en die verhaal wat hy vertel
ken ek wel

'n Verhaal van hartseer en pyn
wat net nie wil verdwyn
van swaarkry en armoede
gebring deur die wêreld se roede

Ook 'n verhaal van nuwe hoop
waarvan sy hartjie oorloop
met die breek van elke nuwe dag
vind hy êrens lewens-krag   

Gedig 107 - Wie jy is


Hoe steek 'n mens dit weg
wie jy eintlik is
hoe dun is die lyn tussen goed en sleg
wat sal die mense omtrent jou wis

Sal dit help as jy in die kerkbanke sit
jy met die ewige glimlag op jou gesig
as jy selfs saam met die sediges bid
met jou skouers vol gewig

Tuesday, February 28, 2012

Gedig 106 - Saad van hoop


My hart is omgedolwe
deur die ploegskaar van die lewe
stukkend geskeur
nog baie teer

Die saad lê in die vore
ek voel soms verlore
wanneer gaan dit groei
my toekoms bloei

Eintlik is dit saad van hoop
waarvan my hart oorloop
'n verwagting binne in my
waarop my lewe gedy  

Sunday, February 12, 2012

Gedig 105 - 'n Geliefde kwyn


Vandag voel ek klein
want ek sien 'n geliefde kwyn
weg die fors en trots
sy, 'n lewensrots

Dit het só skielik gebeur
gedagtes weggeskeur
wat sou sy dink
wanneer die wanhoop wink

Wanneer sy in die verte staar
wonder jy of sy iets gewaar
want sy lyk só weerloos
en jy voel totaal magteloos

Haar liggaam afgetakel
so baie wat haar kwel
nou net vel en been
waar is haar vreugde heen

Die ouderdom besig om te wen
amper verby die lewens-wedren
hoe sterk is haar lewenslus
is dit amper uitgeblus

Soms nog 'n sprankie hoop
deur 'n stille glimlag verkoop
vertroue sy word gespaar
deur nog 'n lewensjaar

In jou eie hart
voel jy al haar smart
want jy het self 'n ouer geword
wat weet wanneer iets skort

En vanaand wanneer jy bid
dink jy aan haar wat in 'n hopie sit
plaas jy in God al jou hoop
terwyl 'n stille traan oor jou wang loop




Tuesday, February 7, 2012

Gedig 104 - Trane-vloed

Wanneer jou hartseer trane val
word my gemoed vol tot by die wal
en as die damwal breek
sal die vloedwater die onreg wreek

Sunday, January 8, 2012

Gedig 103 - Lewensvrae


Voor die maan - sagte vlieswolke
ver hiervandaan
weg van die draaikolke
van ons lewensbestaan

In die middel van die nag
luister na die stem van die natuur
onder die sterre prag
terwyl jy in die verte tuur

Gedagtes verdwaal
tussen 'n mengelmoes van vrae
is dit jou lewensverhaal
hoekom ander se laste dra

Soms probeer jy verander
'n beter mens wees
maar dan spoel 'n ou brander
jou uit op die strand van vrees

Moedverloor se vlakte wat wink
want jy het jou hoop laat steel
dit voel of jy in duisternis wegsink
terwyl jy 'n onwenbare spel speel

Die twyfel in jou hart
geskep in onweersdae
tye van bedekte smart
al jou lewensvrae


Gedig 102 - Lafenis vir jou siel


Voel jy soms jy is op 'n eiland
heeltemal alleen
jou binneste totaal en al uitgebrand
terwyl die druppels van twyfel oor jou reën

Afgesonder van die beskawing
net jy en die natuur
op soek na sielslawing
'n algehele gesondheidskuur

Miskien benodig jy borsvoeding
van moeder natuur
wat oor jou berusting bring
tydens jou donkerste uur

'n Innerlike soeke na lafenis
wat alles kan heel
'n omgewing vol deernis
wat vrede uitdeel

Wil jy jou menswees prysgee
jou binneste leegmaak
die kamers van jou hart uitvee
alles binne in jou skoonmaak

Jou donker gedagtes inruil
vir gedagtes van vrede en hoop
sodat jou siel kan ophou om te huil
en van vreugde kan oorloop

Dalk benodig jy 'n nuwe avontuur
miskien om te stap op 'n strand
vroeg in die oggend uur
kaalvoet op die sand

Met die oggenddou teen jou wang
wegdoen met alles wat jou binneste verniel
die natuur se vrede vasvang
'n algehele lafenis vir jou siel




Wednesday, January 4, 2012

Gedig 101 - Jou Liefde


Jy het jou liefde uitgestort
nou is hy daarmee vort
'n stuk van jou hart is gesteel
hoe gaan die wonde ooit heel

Saam sou julle 'n toekoms bou
nou is jou hart gedompel in rou
soos die son agter 'n donker wolk
hoe moet 'n mens hierdie onreg vertolk

Wanneer gaan die wolk verdwyn
die son weer skyn
jou gemoed ophelder
jy die boot van onreg kelder

Weldrae 'n nuwe dag
weg die donker nag
'n toekoms wat wink
hartseer verlede verdrink

Ek sien jou huppel en lag
sonder enige weeklag
'n uitbundige mens
vreugde sonder grens

Jy - 'n sonskyn mens
met 'n besondere wens
van liefde en geluk
jy sal nog die vrugte pluk

Want God sal geen onreg duld
Hy vra net jou geduld
weldra sal jy Sy plan ken
uiteindelik sal jy deur liefde wen