Sunday, April 18, 2010

Gedig 46 - 'n Plaas

Was jy al op 'n plaas,
weg van die stad se geraas?
Waar jy maar stil kan raak,
want niks anders maak dan saak?

Sien jy die hen,
wat jou hart met haar kuikens wen?
Wat rondskrop en vir hulle wys,
hoe hulle moet soek vir spys?

Wat van die vette vark,
wat wag vir sy rit na die mark?
Wat in die modder rol,
onbewus van sy lewens tol.

Sien jy skape vol wol,
wat in gelid na die kosbakke hol?
Eersdaags word hulle geskeer,
dan staan hulle sonder wol in wind en weer.

Dan is daar die perd,
so baie werd...
Want jy kan op hom ry,
en kyk hoe die ander diere wei.

Wat van die gans,
wat met sy wiggel-lyfie dans?
Netnou sal hy jou jaag,
as jy hom nie behaag.

Sien jy die koei,
wat daar staan en loei?
Haar oë skoon verwelk,
wanneer word sy dan gemelk?

Daar is nog baie meer,
waarby ons kan leer...
op 'n plaas te sien,
wat vermelding verdien.

Maar nou wil ek vir jou sê,
ons kan op ons aangesig lê...
Want deur Sy almag,
ontluik die plaas se prag.

Hy het dit vir ons gegee,
sê ek half verleë...
Dat ons as mens - gering,
ons hulde aan Hom kan bring.

Dat ons kan verstaan,
waar kom alles vandaan...
En ons oog op Hom kan rig,
sodat Hy ons lewenspad verlig!

3 comments:

  1. Hello Gerhard.

    Skuus, maar ek het geen ander manier om jou te kontak nie.

    Ons bring Mei-maand 'n Dormer joernaal uit en wil baie graag jou gedig "Die plaas" daarin sit, met die nodige erkenning natuurlik.

    Laat weet my asseblief wat jy dink.

    Dankie Madeleine Nel. (m.nel@outlook.com)

    ReplyDelete