Thursday, September 15, 2011

Rye



 
Ek staan in 'n ry in die supermark, om 'n maaltyd te koop. 'n Redelike lang ry, moet ek byvoeg. Toe ek amper voor in die ry is, stap 'n vrou heeltemal vanuit die teenoorgestelde rigting tot aan die voorpunt van die ry, só asof sy haar beurt afgewag het. En sy word gehelp.
Nodeloos om te sê, ek is onmiddelik rooi-warm en op die punt om my mond uit te spoel. Gelukkig spring die ou voor my op sy perdjie en spreek sy misnoeë uit, in gekruide taal wat ek eerder nie wil herhaal nie.
Dit het my aan die dink gesit...
Hoekom is daar oral rye waarin ons moet staan?
Dit begin van kleintyd af. Ek onthou nog my eerste dag in Sub A soos gister. Die eerste ding wat ons geleer het, was om in 'n ry aan te tree. Soggens, na eerste pouse, na tweede pouse en helaas aan die einde van die dag, om die skoolgebou te verlaat.
En dit het voortgeduur tot aan die einde van my skool loopbaan (of so het ek altans gedink). Die rye het net al hoe meer geword. Ons het in rye tussen klaskamers en na sportvelde beweeg, in rye na gesamentlike byeenkomste en het selfs in 'n ry gestaan en wag om die toilet te besoek.
Toe ek klaar met skool was, en die “grootmens-wêreld” betree het, het ek nie besef dat dit nie die einde van die rye was nie.
Ek is feitlik uit die skoolbanke na die Polisiekollege, om my opleiding as polisiebeampte te deurloop. En wat was die eerste ding wat hulle ons geleer het? Staan in rye. 'n Ry om getel te word, 'n ry om jou oorpakke en ander klerasie en toerusting te gaan afhaal, 'n ry om te wag dat jou maaltyd opgeskep word, 'n ry om jou beurt af te wag om die gesamentlike badkamers te gebruik, 'n ry oppad paradegrond toe, 'n ry na die lesing lokaal toe... En so kan ek voortgaan. Ons is selfs geleer om in peleton-formasie aan te tree (eintlik maar net drie rye mansskappe wat agter mekaar staan, met elmboog spasies tussen hulle). En o ja, Sondae moes ons in rye na die kerk masjeer om die eredienste by te woon.
Toe ek uiteindelik my opleiding as polisiebeampte voltooi het, het ek gehoop dat die rye sou ophou. Maar toe begin die rye van die samelewing...
'n Ry by die bank om jou salaris te gaan trek. 'n Ry by die munisipaliteit om jou ligte- en waterrekening te gaan betaal. 'n Ry by die poskantoor om 'n seël te gaan koop. 'n Ry by die supermark om vir jou inkopies te betaal. 'n Ry by die verkeersdepartement om 'n motorlisensie uit te neem of jou bestuurderslisensie te verkry of te hernu. 'n Ry by Die Departement van Binnelandse Sake om jou identiteitsdokument te bekom.'n Ry by die haarkapper om jou hare te sny. Selfs 'n Ry waarin jy van vroegdag af wag om 'n rugby kaartjie te koop (net om later te kyk hoe jou span verloor). En so aan en so aan... (Die banke is darem intussen gerekaniseer sodat 'n mens by 'n outomatiese teller geld kan trek of transaksies kan doen, maar ai tog! Selfs daar moet 'n mens dikwels in 'n elle lange ry staan en wag).
Nou sukkel ek nogsteeds om dit klein te kry: “Waarom al die rye?” Miskien gaan dit oor orde in die samelewing. (Nou hoekom word mense dan toegelaat om in te druk). Of miskien word ons sodoende dissipline geleer. (Net jammer party mense leer nooit nie). Is dit nie maar net goeie maniere om iemand wat voor jou op 'n plek was, sy voorkeur possisie te laat behou nie?
Ongelukkig is daar diegene in die samelewing wat altyd 'n “goeie” rede het om nie in 'n ry te gaan staan en wag, soos al die ander mense nie. Gronde soos: ouderdom, liggaamlike gebrek, ras, geslag of siekte. Of: dat hy of sy iemand ken wat daar werk, laat is vir 'n ander afspraak, 'n hooggeplaasde familielid het of dat sy met haar skrapsgeklede lyfie darem nie agter in die ry kan gaan staan nie (hoe kan die mans dan haar bene dophou?) “Goeie redes” is legio.
Wat myself betref, wonder ek of rye nie daargestel is om my geduld (of die gebrek daaraan) te toets nie. Dit voel vir my asof ek agter in die ry gestaan het, toe geduld uitgedeel is (Sien, ek moes tot my geduld ook in 'n ry gaan haal het).
2.

Selfs wanneer 'n mens bestuur word jy in rye ingedwing. Verkeersbane is daargestel om verkeersorde te bewerkstellig en om te verseker dat die padgebruikers, wat in 'n sekere rigting beweeg, spesifieke bane gebruik. Die gevolg is egter dat daar tydens spitstye rye en rye motors in spesifieke rigtings beweeg, dikwels teen 'n slakke-pas. En as jy jou bestemming wil bereik moet jy maar gedwee in 'n ry inval. Dit is nou te sê as jy geduldig genoeg is. Sommige padgebruikers voel mos dat hulle nie in die normale rye hoef in te val nie. Derhalwe sal hulle sommer hulle eie baan links van die geelstreep maak, of in die vinnige baan verby die “geduldige” padgebruikers jaag – net om oor die sperstreep voor in die ry in te druk. En dan het hulle nog die vermetelheid om met hulle flikkerligte “dankie” te sê, so asof jy hulle ingelaat het en hulle jou nie amper van die pad af gedruk het nie. Soms voel ek ek is 'n goeie kandidaat vir “road-rage”.
Terselfdertyd dink ek ook aan die natuur. Die hen stap voor en haar kuikens volg haar - in 'n ry. Eende swem in 'n ry. Skape loop in 'n ry (as die eerste een eers deur die hek is volg die ander skape maar gedwee, selfs al word hulle ter slagting gelei). Trek-voëls vlieg in 'n ry. Miere loop in 'n ry. Selfs beeste loop in 'n ry wanneer hulle gedip moet word (al word hulle in 'n drukgang ingedryf).
Nou wonder ek maar net: “Het die natuur by die mensdom geleer van rye of het die mensdom by die natuur geleer?” Dit is amper soos die ge-eikte vraag: “Wie was eerste, die hen of die eier?”
Selfs in die spreektaal word daar na rye verwys. Soos wanneer 'n dronk persoon in“twee rye
spore” loop.
Miskien lê die antwoord in die Bybel. Daar word gesê: “Wie eerste is sal laaste wees en wie laaste is sal eerste wees”. Is dit nie maar 'n verwysing na mense wat in rye staan en wag nie? En dit laat my wonder – sal ons eendag in rye staan en wag voor God se regterstoel om beoordeel te word? En is dit nie juis ons geduld in die lewens-rye wat ons gesindheid en die werklikheid van dit wat in ons binneste verskuil is, weerspieël nie?
Dit voel asof al my gedagtes nou 'n ry vorm.

No comments:

Post a Comment