Saturday, May 1, 2010

Gedig 54 - Uit die dieptes van my hart

Diep in my hart,
wil ek nou delf...
verby my smart,
'n kykie na myself.

Ek is maar net mens,
wat 'n vol lewe wil voer...
deur my eie beperkinge begrens,
soms wonder ek waarom alles sloer.

My skouers gaan soms gebuk,
onder alles wat daarop rus...
soms so groot die lewensdruk,
dan moet iets my gedagtes sus.

Somtyds net 'n sagte woord,
met 'n opregte glimlag...
of 'n musiek akkoord,
waarop ek wag.

Miskien 'n boodskap klein,
vir my bedoel...
of sagte samesyn,
wat my beter laat voel.

Van 'n persoon,
wat my verstaan...
my swakheid verskoon,
en my nooit vermaan.

Wanneer ek my onttrek,
om net alleen te wees...
en gedagtes verwek,
wat jy later kan lees.

Reinig ek my gees,
was my gedagtes skoon...
verwyder al die vrees,
wat in my kom woon.

Dan wil ek net dig,
my woorde neerpen...
my gees verlig,
my menswees terugwen.

Soms sit ek en droom,
oor die mooi van die lewe...
is ek dalk te vroom,
vra ek dat Hy my vergewe.

Wanneer ek my verknies,
oor ander se seer...
kan hulle verlies,
my dalk iets leer.

Nou en dan,
wil ek net hoor...
woorde wat my laat ontspan,
wat my nie versmoor.

Soms staan ek skuldig,
en laat my hart bekoor...
deur woorde menigvuldig,
komplimente wat ek hoor.

Dan kom die besef,
uit myself kan ek niks vermag...
en ek verdien nie die ophef,
waarna ek dikwels smag.

Nou wil ek dit herhaal,
ek is maar net 'n kleine mens...
en het maar min behaal,
steeds nie die sukses waarvoor ek wens!

1 comment: