Tuesday, January 18, 2011

Gedig 86 - Sinkende skip

Voel dit ook somtyds vir jou
jy is op 'n skip wat besig is om te sink
en terwyl jy aan die stuur klou
begin die wanhoop wink

Die stormwater kom dreigend nader
spoel oor die dek
twyfel begin in jou binneste vergader
en jou maag wil op 'n knop trek

Jy skep die oortollige water uit
maar al hoe meer vloei in
die bemanning begin te muit
niks maak eintlik meer sin

Die skip kan weer vlot
maar alleen kan jy dit nie doen
is dit nou maar jou lot
hoe gaan jy met die werklikheid versoen

Moet jy bly totdat die skip sink
of moet jy maar afspring
hoe lank moet jy alles oordink
wat gaan dan vrede bring

Eintlik voel jy só alleen
heeltemal magteloos
wil jy net sit en ween
soos Job - net so moedeloos

Só lank op antwoorde wag
jou geloof begin weer taan
dikwels laat in die nag
stort jy 'n bedekte traan

Jy is nou reeds 'n ander mens
presies dit wat jy nie wil wees
reeds oor die verste grens
jy kan maar net die skrif aan die muur lees

No comments:

Post a Comment