Tuesday, January 4, 2011

Gedig 84 Kamers van my hart

Die kamers van my hart is soms leeg
al wat dan oorbly is 'n klank só hol
soos in 'n verlate steeg
dan maak weemoed my gemoed vol

Voel ek só broos
totaal en al deurmekaar
eintlik heeltemal weerloos
voel ek om die vreemde in te vaar

Eintlik is daar net plek
in die kamers van my hart
vir hulle wat vrede wek
selfs wanneer die vyand my tart

Die kamers van my hart is dus te huur
vir elkeen wat vrede kan bring
selfs al bly jy net vir 'n uur
sal my hart weer sing

Eintlik wens ek al die kamers was só vol
van vreugde en geluk
dat weemoed sal weghol
en van vrees sal verstik

Kom tog julle wat vol vrede is
en huur 'n kamer van my hart
dat julle my gemoed kan sus
diep uit elke kamer van my hart

No comments:

Post a Comment