Tuesday, January 18, 2011

Gedig 87 - Bondeltjie mens

Sy sit daar langs die pad
'n klein bondeltjie mens
aalmoese sal sy vat
dit is maar haar dag se wens

Eers was sy regop en fier
'n trotse mens voorwaar
maar nou sit sy hier
deur ander se genade gespaar

Wie sal regtig weet
waar kom sy vandaan
van al haar leed
elke stille traan

Sy is nou gestroop
van waardigheid en eer
alles het verkeerd geloop
nou slaan sy haar oë neer

Nou is sy in die pad
onbelangrik en alleen
wie sal haar hand vat
saam met haar ween

Miskien is ons te groot
om haar raak te sien
'n gejaag na lewensbrood
asof ons dit verdien

Môre is dit dalk ons beurt
om langs die pad te sit
miskien is ek verkeerd
maar nogtans sal ek vir genade bid

Want diep binne in my
voel dit of dit ek is wat daar sit
reeds besig om te ly
mens sonder enige nut

En hoop ek jy gaan by my stop
my 'n drukkie gee
dat jy kan voel of my hart nog klop
jy my weer hoop kan gee

No comments:

Post a Comment