Wednesday, March 24, 2010

Gedig 8 - Boemelaar in my hart

By die verkeerslig met verweerde jas,
verkrampte hande hou die hoedjie vas...
Berekende bewegings - 'n skuifel-stap,
'n paar munte koop 'n bordjie pap...
Elke dag op sy pos sowaar,
hy kry darem veels te swaar...
Sal hom maar vandag ignoreer,
sien hom mos môre nog 'n keer...
My beursie nou vasgeklem,
hoor nie die vermaning van 'n sagte stem...
Die gesig wat ek nou daar sien,
het beslis 'n aalmoes verdien...
Skaam oor my eie verlede,
ook maar 'n wankelende hede,
Moes eintlik self daar staan,
gedagtes wat my oë laat traan...
Die boemelaar in my hart,
nou besig om my uit te tart...
Dan die stem wat my laat onthou,
Hy het my met Sy liefde omvou...
Verlede vir altyd verby,
hoekom myself nou weer laat ly...
Hy het dan aan die kruis gesterf,
en só my vergifnis verwerf!

No comments:

Post a Comment