Wednesday, March 24, 2010

Kortverhaal - Die onwaarskynlikste feës-ganger

DIE ONWAARSKYNLIKSTE FEES-GANGER
(geskryf deur Gerhard J Goosen)
Karel parkeer sy motor ver van die ingang van die winkel-kompleks. Hy kyk rond
en sien gelukkig niemand met 'n oorbaadjie aan nie. Hy is nou regtig nie weer lus om
'n tweerand-muntstuk weg te gee vir 'n 'suurstof-dief', wat maak of hy of sy motors
oppas nie.
Hy loop in die rigting van die supermark waar hy sy daaglikse inkopies wil gaan
doen. Vir die soveelste maal sien hy hom daar sit. Met sy verweerde oorjas,
komieklike hoedjie (soos die van die kappie-kommando), half stukkende wol
handskoene (seker nou maar om hom teen die winter-koue te beskerm!), ou
verweerde skoene - wat plek-plek gapend oop is, stoppel-baard (seker nie lus om te
skeer nie,of vir die 'image') en die vervloekste blik-beker (met meer as genoeg plek
vir baie aalmoese), wat hy krampagtig in sy hande vasklou! En dan hoes hy nog met
so 'n walglike roggel geluid - genoeg om 'n mens se aandete te bederf!
So in die loop sy-stap Karel - net om seker te maak hy stap wyd genoeg verby die
'patetiese' figuur. Hy draai sy kop weg om te maak of hy na 'n voëltjie (of iets
dergliks) in die lug kyk. "Ek soek maar net 'n stukkie brood meneer," hoor hy die
stem. Hy loop net aan asof hy stok-doof is, met sy treë nou só groot, dat 'n
kameelperd trots sou gewees het op hom.
Eintlik is Karel nou rooi-warm en hy voel sommer lus om terug te stap en die
laspos so hard te klap, dat hy verlang na mense wat hy nie eers ken nie! Maar hy
bedwing hom eerder, want netnou klap hy die ding dood of doen hy die een of ander
siekte (soos vigs of iets) op! Hy is sommer lus en gaan rapporteer hom by die polisie,
want hy raak nou regtig 'n ergernis.
Hy gee mos sy tiende vir die kerk en dit is mos eintlik die kerk se werk om vir
behoeftiges te sorg! Maar hy dink in elk geval die klomp 'fat-cats' in die kerk verryk
hulleself net - sonder om aan die buite-wêreld en die nood daarin te dink.
Net nou die dag nog, het een van die vrouens by die werk vertel van die klomp
bedelaars wat nou eintlik 'n besigheid daarvan maak...
Hulle staan by die verkeersligte met hul netjiese 'casual' klere. Hulle wil nie haglik
lyk nie, maar is baie versigtig om nie die indruk te skep dat hulle eintlik welaf is nie.
Die gesigs-uitdrukking moet van wanhoop spreek. Hulle soek nie munte nie, want om
die warm son te trotseer het 'n baie hoër prys. Party van hulle het 'n kind in die arm
net om die omvang van die 'nood' te beklemtoon!
En dan is die bewoording van die karton-bord baie belangrik. Hier en daar moet 'n
woord verkeerd gespel word - net om die gebrek aan skolastiese opleiding te
bevestig. Dit is belangrik om verskoning aan te bied vir die feit dat hulle op só 'n
wyse vir geld vra, maar hulle kan nou regtig nie anders nie - met die verswakkende
ekonomie en al! En o ja, dit moet eindig met "GOD BLESS!"
Iemand het blykbaar een van hulle agtervolg aan die einde van die dag. Tot die
persoon se verbasing het die 'bord-man' geloop tot by 'n blink sport motor wat op 'n
2.
afstand in die koelte geparkeer was, waarna hy met 'n glimlag op sy gesig weggery
het.
'n Ander persoon het blykbaar vir een van die 'bord-manne' werk aangebied, waarna
hy gesê het:
"Ek maak op een dag meer hier op my pos, as wat ek met 'n week se harde werk vir
jou sal maak. So hoekom sal ek só 'stupid' wees om vir jou te kom werk!" En hy het
blykbaar daarna diep uit sy keel uit gelag.
Een vrou het verder beweer, dat sy een van die 'bord-manne' in 'n supermark
raakgeloop het. Sy hele mandjie was só vol van luukshede dat hy beslis nie na 'n
behoeftige gelyk het nie.
Nadat Karel sy inkopies gedoen het, loop hy met 'n draai om te verseker dat hy nie
weer verby die boemelaar sal loop nie. Netnou vervies hy hom en skop die vent in die
gesig!
Toe hy by sy motor kom, staan 'n vrou - met 'n oorbaadjie aan - angstig nader. Só
asof sy uit die niet verskyn het. "Ek het mooi gekyk, meester!" sê sy. Karel ignoreer
haar, klim in sy motor en skakel die enjin aan. Die vrou het blykbaar nie die
boodskap gekry nie, want sy staan met behendige bewegings vir hom en aandui hoe
hy moet uitry - só asof sy 'n verkeersman is en asof hy nog nie 'n bestuurders-lisensie
het nie. Sy is darem nie te onaantreklik nie en daarom besluit Karel maar om 'n
tweerand-muntstuk in haar hand te sit. Sy kyk in haar hand om te sien hoeveel hy
gegee het en sy lyk opmerklik teleurgesteld. Sy sê darem: "Dankie meester, geniet die
res van jou dag!"
Nadat Karel vir hom 'n geurige maaltyd gemaak het, gaan sit hy dit voor die
televisie en eet. 'n Aktualiteits program is aan en om alles te kroon handel dit oor die
stryd van oorlewing van die 'arme benadeeldes'. Karel dink: "Die nuwe regering is
nou al vir meer as vyftien jaar aan bewind, maar al die armoede en misdaad in die
land is nogsteeds die vorige 'opressive regime' se skuld. Hy wonder of hulle nou vir
ewig geblameer gaan word. Hy dink instinktief terug aan 'n voorval waar babas in 'n
bekende hospitaal oorlede is. Die vorige regering is toe, na ál die jare, geblameer,
omdat toestande in dié hospitaal presies dieselfde was as toe hulle aan bewind was!"
Hy vervies hom sommer bloediglik en gaan klim maar in sy bed om te slaap. Al
hierdie dinge maak hom sommer lewens-moeg!
Karel val sommer dadelik aan die slaap. Hy rol later onrustig rond. Hy droom...
Hy sien homself waar hy in 'n groot oop ruimte stap. Hy sien 'n ongelooflike groot
tafel. Dit is só groot dat 'n mens nie die einde daarvan kan sien nie! Op die tafel is 'n
feesmaal uitgepak. Hy het nog nooit só baie lekker kos bymekaar gesien nie. Die
borde is van helder deurskynende glas gemaak. Al die eetgery is goud-kleurig. Die
tafel en die stoele is met helder-wit materiaal ge-drapeer. Aan die punt van die tafel
sit 'n persoon in 'n wit gewaad. 'n Mens kan nie sy gesig sien nie. Sy hele gewaad is
3.
omring deur 'n helder skynsel. Dit is duidelik dat hy die banket-meester is.
Die volgende oomblik begin die fees-gangers binnekom. Hulle het almal helder-wit
bekleedsels aan, en die geluk is op hulle gesigte sigbaar. Elkeen gaan sit op sy plek
by die tafel. Hy sien baie bekendes.
Die vriendelike dame, wat hom gewoonlik by die kasregister in die supermark
bedien, is daar. Hy sien ook van die gemeente lede van sy kerk. Die vrou wat haar
elke Woensdag by die sop-kombuis afsloof is ook daar. Dit verbaas hom eintlik dat
baie van die voorbokke in hulle kerk nog nie hul opwagting gemaak het nie. Hy sou
juis verwag het dat hulle eerste moes inkom en dat hulle die naaste aan die banketmeester
moes gaan sit het. Hulle gee dan só muldelik aan die kerk, en is dan altyd die
voorlopers!
Die fees-gangers het een vir een binne-gestap en hy was ál hoe meer verbaas oor
wie hulle was. Op die ou end was daar net een stoel oor. Hy wou nader stap om te
gaan sit, maar merk toe op dat daar 'n onoorbrugbare groot gaping tussen hom en die
fees-tafel was.
Toe die laaste fees-ganger inkom, was hy die mees onwaarskynlikste van almal.
Karel herken hom amper nie. Sy gesig is glad geskeer en daar is 'n helder glans in sy
oë. Hy het sy verslete boemelaars-jas verruil vir 'n blink nuwe kleed. Hy hoes nie eers
meer nie en hy lyk blakend gesond. Hy gaan staan vir 'n oomblik stil en kyk reguit na
hom. Hy het 'n sagte glimlag op sy gesig - amper só of hy iets wil sê. Eintlik hoef hy
nie iets te sê nie! Hy draai om en gaan neem sy plek in, aan die regterhand van die
banket-meester. 'n Helder lig straal oor hom.
Karel kyk af en sien vir die eerste keer die verweerde klein tafeltjie met die half
stukkende stoel wat naby hom staan. Hy sien 'n karton naambordjie met sy naam
daarop geskryf. Al wat op die tafeltjie staan is 'n gekraakte bord met 'n stuk droë
brood daarop. Langs die bord staan 'n verweerde blik-beker vol sop!
Die volgende oggend skrik Karel met 'n natgeswete lyf wakker. Sy klere is só nat,
dat hy dit met sy hande sal kan uitdroog. Hy spring in die bad en was hom skoon. Hy
kan nie gou genoeg sy klere aantrek nie. Met sy beursie in sy hand jaag hy na die plek
waar die boemelaar gewoonlik sit. Hy moet gaan regmaak! Hoe kon hy dan so 'blind'
gewees het!
Hy sit nie op sy plek nie en Karel begin vrees-agtig navrae doen. Gelukkig kan die
motorwag, wat die vorige dag sy motor opgepas het, vir hom sê waar die boemelaar
slaap. Hy druk sommer 'n honderdrand-noot in haar hand en sy kyk hom met
verbasing aan. "Baie dankie meester!"skree sy agter hom aan.
By die parkie, waar die boemelaar (volgens die motorwag) gewoonlik slaap, vind
Karel hom waar hy opgekrul lê - onder 'n oopgebreekte karton-doos. Hy probeer hom
wakker maak, maar sy liggaam is stokstyf en leweloos. In sy linker hand is die blikbeker
vasgeklem en in sy regter hand 'n klein sak-Bybeltjie.
Karel lees die gedeelte waarby die Bybel ooplê en sy oë gaan staan stil by Mattheus
25: 40 "Voorwaar Ek sê vir julle, vir sover julle dit gedoen het aan een van die
4.
geringstes van hierdie broeders van My, het julle dit aan My gedoen."
Hy gaan sit op sy knieë by die lewelose liggaam en begin om hartverskeurend te
huil...
**********
OOR DIE SIMBOLIEK VAN DIE VERHAAL:
Ons is dikwels gou om te oordeel en om te soek na allerhande verskonigs om ons
beursies vir dié wat vra, toe te hou. Eintlik moet ons eerder vra wat Hy sou gedoen
het, as Hy in ons situasie was! Sal ons eendag aan die fees-tafel sit? Moet ons nie
juis nou iets aan die situasie doen, voordat dit vir altyd te laat is nie? Ons doodskleed
gaan in elk geval nie sakke hê nie. En dit wat ons op aarde het, is maar net aan ons
geleen. Ons is maar net die rent-meesters daarvan!

No comments:

Post a Comment