Tuesday, March 23, 2010

Kortverhaal - Agter die eensaamheid

AGTER DIE EENSAAMHEID
(geskryf deur Gerhard J Goosen)
Die son skyn warm deur die kamervenster. Lodewyk draai om in sy bed en wonder
of hy vandag moet opstaan. Hy hoef eintlik nie op te staan nie, want soos elke oggend
van die laaste vyf jaar het hy niks om te gaan doen nie. Hy het geen
verantwoordelikhede teenoor enigiemand nie. Om alleen te wees is vir hom 'n keuse.
Met die laaste gedagte raak hy weer aan die slaap...
Net voor middagete raak Lodewyk weer wakker. Hy word bewus van die hongerte
oor sy maag en staan traag op. Hy gaan na die badkamer en kyk na homself in die
spieël. Sy lang rooi baard het nog nie 'n enkele grys-haar in nie. In sy familie wys die
ouderdom nie vinnig nie, en op agt en dertig voel hy nie oud nie. Sy blou oë getuig
van hartseer. "Hoe lank nog?" wonder hy.
Toe hy homself gebad het, stap hy na die kombuis en begin vir hom 'n groot laatontbyt
aanmekaar slaan. Sy ma sou dit 'n "English breakfast" genoem het. Hy is glad
nie skaam toe hy moet besluit hoeveel repe spek om vir homself gaar te maak nie,
geld is nie 'n probleem nie en hy het in elk geval nog nooit sy sente omgedraai sedert
hy hier woon nie. Die rakke in sy kruideniersware-kas buig eintlik onder die gewig
van al die kos en sy yskas is so vol dat daar beswaarlik plek is vir enigiets anders.
Maar dit is hoe hy dit wil hê.
Nadat hy gesmul het aan sy maaltyd, was hy die skottelgoed. Nou het hy sy
belangrikste dagtaak afgehandel. Al woon hy alleen, gaan hy homself beslis nie laat
honger ly nie!
Hy gaan sit op die stoep van sy houthuis en staar oor die vertes van die see. Sy
gespierde bolyf skyn goudbruin in die warm son. 'n Tortelduif kom sit op die rand
van die balkon se houtreëling. Toe hy die huis teen die skuinste gebou het, het hy
verseker dat die balkon hoog genoeg gelig is, dat hy tot ver oor die see kan uitstaar. 'n
Mens hoor net die sonbesies se skel geluid en die ge-koer van die tortelduif, wat
Lodewyk ondersoekend aankyk. Die tortelduif wag elke dag net tot hy op die stoep
kom sit en dan kom sluit sy by hom aan. Sy verseg om weg te vlieg voordat hy
opstaan en in die huis ingaan. En dan wens hy hy het vlerke gehad om saam met haar
weg te vlieg. Dit verbyster hom eintlik dat die duif altyd hier aankom wanneer hy op
die stoep kom sit. Het sy dan nie 'n maat nie? As sy kon praat sou sy seker haar
diepste hartsgeheime met hom gedeel het. Hulle is eintlik al soos ou vriende, wat niks
meer het om vir mekaar te sê nie!
Lodewyk staan op en loop af na die strand toe. Hy voel hoe warm die sand onder sy
voete is, en stap instinktief na die see se water-lyn. Hy begin draf op die klam sand en
asem die vars lug tot diep in sy longe. Nadat hy omtrent veertig minute gedraf het,
draai hy terug. Hier is dit net hy en die natuur. En die alleenheid. Hy het eintlik geen
benul aangaande die wêreld-gebeure nie. Hy lees nie 'n koerant nie, besit nie 'n
televisie-stel nie en luister nie na die nuus op sy radio nie. Die buite-wêreld gaan hom
2.
nie aan nie. Die gedruis van die branders is vir hom ewe aan die gedruis in sy
gemoed.
Die opstand in sy gemoed woed nou al vir vyf jaar lank. Hoe kon God dit toegelaat
het? Hy is nie net kwaad vir die mensdom nie, hy is sommer kwaad vir die
Opperwese ook. Al wat hy ooit begeer het, was geluk en vrede. En dit was nie vir
hom beskore nie! Daarom het hy besluit om hom van alles en almal te distansieer.
Gelukkig kom daar nooit iemand op hierdie afgeleë strand nie. Dit is soos sy eie
eiendom - wat hy vir homself toege-eien het. Hy het al gewonder wat hy sou doen as
iemand dit ooit sou waag om 'n voet op 'sy' strand te sit. Dan laat sy gedagtes hom
eintlik ril. 'n Mens kan hom eintlik vergelyk met 'n leeu wat sy beheer-area afgemerk
het en wat enige indringer sal verskeur. Hy het sy kleim afgesteek op 'n afgeleë strand
waar hy alleen kan wees. Die stads-lawaai is vir hom soos 'n vae gedagte. Nooit wil
hy weer deel daarvan wees nie. Mense stel gewoonlik net teleur. En hy sal nie
sommer weer iemand vertrou nie. Die spreekwoord sê mos - 'die makste honde byt
die seerste!' En hy was al baie 'gebyt' - juis omdat hy mense so maklik vertrou het.
Die eerste paar jaar van sy self opgelegde kluisenaar-skap, was nogal moeilik. Hy
het in die verlede vir mense gesê dat hy nooit alleen sal kan wees nie. Hy het selfs
gespot en gesê dat sy nuwe verloofde reeds aan sy sy sou wees wanneer hy sy vrou
begrawe. Maar hy is eintlik, ongeag van wat mense gedink het, soos 'n tortelduif wat
in sy lewe net een maat sal hê - tot die dood hulle skei! Hy het geglo dat hy daardie
maat ontmoet het en dat hulle vir altyd bymekaar sou wees. Min het hy geweet hoe
anders dinge sou uitwerk. Dat hy nou alleen sou wees.
Hy kan die dag wat hy haar ontmoet het, nog soos gister onthou...
Dit was 'n helder somers-oggend in die 'Jakaranda stad'. Hy het op 'n drafstap na die
naaste kafee geloop om melk en brood te gaan koop om vir homself ontbyt te maak,
voordat hy moes gaan werk. Hy het te vinnig om die hoek van die winkel-kompleks
gekom en hy het haar onderstebo geloop. Hy het self sy balans verloor en het reg boop
haar geval. Op daardie oomblik was hulle gesigte so naby aan mekaar dat hy haar
asemhaling teen sy gesig kon voel. Hy het vir 'n oomblik verstar bo-op haar bly lê en
kon die kurwes van haar liggaam onder hom voel. Sy hele liggaam het skielik soos
jellie gevoel. En dit het beslis nie enigiets met die onverwagte botsing te doen gehad
nie. Haar vars reuk het hom onverhoeds betrap en sy hart het in sy keel geklop.
Sy het hom met 'n sagte glans in haar oë aangekyk en het gevra: "Gaan jy nou so
bo-op my bly
lê? Ek is nogal haastig - weet jy!" Die hees klank van haar stem het hom onmiddellik
opgeval. Hy het verleë opgespring en het haar hand in syne geneem om haar op te
help. Haar ferm greep het hom verbyster. Hulle het mekaar vierkantig in die oë gekyk
en vir 'n oomblik het dit gevoel of daar 'n onsigbare band tussen hulle was. 'n Mens
kon die stilte met 'n mes sny. Hulle het altwee besef dat dit 'n oomblik soos dit was,
waaroor daar gewoonlik in boeke geskryf word.
"Ek is baie jammer! Ek het nie..." het hy begin. Sy het hom in die rede geval en het
3.
gesê: "Dit maak regtig nie saak nie! Sulke dinge gebeur maar. Dit is die verloop van
die lewe." Sy het hom aan die arm geneem en het hom 'n sagte drukkie gegee - as
teken dat alles in orde was. Daarna het sy omgedraai en deel van die mense op die sypaadjie
geword.
Die res van die dag kon hy aan niks anders dink nie. Hy het hom telkens verbeel hy
voel weer haar asemhaling teen sy gesig. En elke keer sien hy weer haar helder-blou
oë in sy gedagtes!
Die volgende dag is hy inderhaas na die plaaslike hospitaal se ongevalle afdeling,
nadat hy 'n onuithoudelike pyn in sy regtersy ondervind het. Hy het verneem hy het
nierstene en is onverwyld in die hospitaal opgeneem.
Hy was nog half bedwelm van die inspuiting wat hy vir pyn gekry het, toe hulle
hom later die middag in die teater ingestoot het. Almal in die teater het nogal
komieklik vir hom gelyk met hul blou oorpakke en maskers en hy moes moeite doen
om sy lag onder bedwang te hou.
Op daardie oomblik het hy na sy asem gesnak. Bokant een van die maskers het hy
dieselfde blou oë van die vorige dag gesien. Hy kon duidelik die onreëlmatigheid van
die hart monitor waaraan hulle hom gekoppel het hoor. " Is jy 'ok' ?" het die uroloog
wat die operasie sou uitvoer gevra. "Moet jou nie bekommer nie - jy is in goeie
hande!" het hy vervolg. Hy het net geknik, want die knop in sy keel was te groot om
'n woord uit te kry.
Sy het dieselfde sagte uitdrukking in haar oë gehad en hy het weer die ferm druk
van haar hand gevoel toe sy begin om die inspuiting toe te dien om hom onder
narkose te plaas. "Jy moet lekker slaap," het sy met haar hees stem gesê - net voordat
hy weggeraak het...
Lodewyk het later in sy hospitaalbed wakker geword en sy gedagtes was net by
haar. "Wat is die kanse nou dat hy haar twee dae na mekaar op sulke onwaarskynlike
plekke sou raakloop?(letterlik en figuurlik)," het hy gelê en wonder. Hy dink aan die
onstuimigheid van sy hartklop toe hy haar in die teater opgemerk het - tot sy
verleentheid. Haar aanraking , voordat sy hom onder narkose geplaas het, het hom
bygebly! Soos die van 'n engel uit die hemel. Met dié gedagte het hy weer aan die
slaap geraak...
Omstreeks tien uur die volgende dag het die uroloog hom uit die hospitaal
ontslaan. Met die moderene tegnologie kon hulle die nierstene met lasar-strale
stukkend skiet en het dit op daardie stadium vir Lodewyk gevoel of hy perdfris was.
Die pyn wat hy die vorige dag in sy regtersy ondervind het, was toe net 'n vae
gedagte. Al waaraan hy toe kon dink, was twee helder-blou oë(soos twee poele
aanloklike water op 'n warm somers-oggend), 'n warm asemhaling teen sy gesig(soos
'n welkome warm windjie wat die winter-koue verdryf), die verruklike vars
reuk(soos die van 'n blomtuin) en 'n hees stem(soos die van 'n engel).
Hy was alleen in die hysbak oppad na die grondverdieping. Toe dit op die derde
verdieping oopgegaan het,het sy binne-gestap. Sy het haar wit oorjas aangehad en
4.
haar stetoskoop het om haar nek gehang. Haar blou oë het hom onmiddelik
vasgevang. Hy moes sy oë behoorlik van haar blik wegskeur om na haar
naamplaaitjie te kyk en te lees: "Dr Linda Malan". Haar glimlag het duidelik die
kuiltjies langs haar mondhoeke beklemtoon, toe sy haar hand na hom toe uitsteek en
sê: "Noem my Linda, ten minste lê jy darem nie vandag bo-op my of op 'n teater-tafel
nie!" Hy het haar hand in syne geneem en homself aan haar voorgestel. Die ferm
handdruk van die vorige dag, het nou in 'n warm sagte handdruk verander. En haar
vroulikheid het hom betower. "Lus vir koffie?" het sy gevra. En hy het onverwyld
bevestigend geantwoord.
Hulle het vir bykans 'n uur in die hospitaal se kafeteria gesit en gesels, asof hulle
mekaar al vir jare geken het. Dit was asof hulle op die aarde geplaas was, met die
uitsluitlike doel om mekaar te ontmoet. Hulle het dieselfde belangstellings gehad en
om alles te kroon, het hulle in dieselfde woonstelblok gewoon sonder dat hulle van
mekaar se bestaan bewus was. Voordat sy die tafel verlaat het om haar rondtes in die
hospitaal te doen, het sy hom genooi om dié aand by haar te kom eet.
Stiptelik om agt-uur het hy aan haar woonstel se deur geklop. Toe sy die deur
oopmaak, het hy hoorbaar na sy asem gesnak - en hy kon die goedkeuring in haar oë
sien. Haar lang blonde hare het losweg oor haar skouers gehang. Haar oë het nog
blouer gelyk en haar glimlag het haar helder-wit tande vertoon. Sy het 'n skouerlose
lig-blou kniehoogte rok aangehad. Haar soepel bruingebrande skouers het amper sy
aandag van haar halslyn afgetrek, maar toe sy oë op die welgevormde kurwes van
haar bolyf tot stilstand gekom het, moes hy hom inspan om hulle verder te beweeg.
Sy oë het na haar bene beweeg en haar kuite se soepel vorm het hom opgeval. Haar
kaal voete was vir hom pragtig(eintlik was hulle volmaak).
Hulle het 'n geurige maaltyd by kerslig geniet. Die rooi-wyn wat sy voorgesit het,
het vinnig na sy kop gegaan(of was dit haar magiese teenwoordigheid wat hom so
bedwelm het?) Sy was beslis die vrou van sy drome. Aan die einde van 'n verruklike
aand het sy hom saggies op sy lippe goeie-nag gesoen. En haar reuk het by hom gebly
totdat hy veel later in sy bed aan die slaap geval het.
Na daardie aand het hulle as 'n gereelde instelling vir mekaar kos gemaak en hulle
het oor en weer gekuier. Hulle het on-afskeibaar geword en is presies drie maande na
hulle ontmoeting in die huwelik bevestig.
Hul huweliksnag het hulle saam in 'n hotel deurgebring. Omdat sy haar nie kon
losmaak van haar verpligtinge by die hospitaal nie, het hulle maar besluit om presies
'n jaar later 'n laat-wittebroods vakansie te neem.
Die nag in die hotel was egter uitsonderlik. Hulle het vroeg in hul verhouding
besluit dat hulle tot hul huweliksnag sou wag, voordat hulle intiem sou verkeer,
omdat dit vir hulle albei hul eerste keer sou wees. Hy het bo-op die bed vir haar gelê
en wag terwyl sy haar in die badkamer vir hom gereed gemaak het. Net die nagligte
was in die kamer aan. Toe sy na hom toe aangestap gekom het, kon hy die kurwes
5.
van haar liggaam duidelik deur haar satyn nagklere sien. Sy het haar nagrok oor haar
skouers laat gly en dit het tot op haar enkels gesak. Haar ferm borste was volmaak.
Sy het die piep-klein broekie, wat sy onder die nagrok aangehad het, ook uitgetrek.
En sy het net daar gestaan om hom die geleentheid te gee om haar naakte liggaam in
die sagte glans van die nagligte te aanskou. Dit was die eerste keer wat hy haar
sonder klere gesien het, en die wag was beslis die moeite werd. Sy was pragtig. En sy
was syne.
Hy het die kortbroek wat hy aangehad het, van sy liggaam afgeruk en sy het saggies
op die bed langs hom kom lê. Hulle het mekaar innig gesoen en het daarna mekaar se
liggame stukkie vir stukkie ontdek. Die volmaakte samesmelting van hulle liggame
was voltooi, toe hul liefde soos opgehoopte waterstrome, wat deur damwalle gebreek
het, oor mekaar gespoel het...
Lodewyk was oorstelp oor die volmaaktheid van hul liefde en hul tyd saam. Elke
dag was vol van nuwe beloftes. Hulle kon nie genoeg van mekaar kry nie. Hulle het
nader en nader aan mekaar beweeg. Elke dag wanneer sy klaar haar pasiënte gesien
het en wanneer hy klaar gewerk het, het hulle hulle na mekaar gehaas. Dan het hulle
klere oor die hele woonstel verstrooi gelê, soos hulle dit koorsagtig van hulle liggame
afgeruk het om weer en weer te streef na oomblikke van volmaakte eenheid. Die
momentum van die heerlike voor-spel het met rasse skrede toegeneem. En hul liefde
het by elke geleentheid meer en meer deur hul liggame gespoel.
Haar swangerskap het die volmaaktheid van hul liefde bevestig. Dit was eintlik die
seël op hul liefdesband. En hulle was altwee oorstelp van vreugde!
Soos hulle ooreengekom het, het hulle presies 'n jaar nadat hulle getroud is, op
hulle laat-wittebroods vakansie vertrek. Gelukkig was haar swangerskap in 'n vroeë
stadium en hulle het per vliegtuig na 'n bekende tropiese eiland gereis.
Hulle verblyf was idillies en hul liefdes-reis het daagliks voortgeduur.
Tot daardie dag - die dag voordat hulle huis-toe moes vertrek. Sy het solank vir
hom gewag in die restaurant waar hulle middagete sou geniet het, terwyl hy vir haar
'n spesiale geskenkie gaan koop het, by 'n nabygeleë winkeltjie wat snuisterye
verkoop. Die twee wit porselein duiwe, wat onafskeibaar aanmekaar verbind was,
was vir hom die versinnebeelding van hul liefdesband. Hy het dit vir haar gekoop en
die eienares van die winkel het dit keurig vir hom verpak. Oppad terug na die
restaurant waar sy vir hom gewag het, het hy die Here gedank dat Hy hierdie
wonderlike vrou vir hom gegee het en vir die volmaaktheid van sy lewe.
Die volgende oomblik was daar 'n oorverdowende slag wat die aarde geruk het. Die
impak van die slag het hom van sy voete af geruk en hy het soos 'n vrot vel deur die
lug getrek. Toe hy tot verhaal kom, het hy gesien sy linkerhand was stukkend gesny.
In sy hand het die twee porselein duifies in afsonderlike stukke gelê.
Hy het hom na die restaurant waar Linda vir hom gewag het gehaas. Toe hy daar
kom, was hy met afgryse vervul. Waar die voordeur 'n rukkie vantevore was, was net
een groot gaping. Orals het stukkende mense verstrooid gelê. Hy het naarstigtelik
6.
rondgekyk en toe sien hy haar, waar sy skuins onder 'n tafel lê. Hy het by haar
stukkende liggaam gaan kniel en sy het haar bloeiende hand op haar maag gesit. Haar
gesig was pik swart en verskroei. Haar helder-blou oë het na hom gekyk en hy kon
die vrees daarin sien. Hy het haar bloeiende hand in syne geneem en het dit styf
vasgedruk. Hy het vooroor gebuk en het haar op haar verskroeide lippe gesoen. 'n
Traan het oor haar wang gerol en hy het vir oulaas in haar oë gekyk. Daarna het sy
haar blou oë vir altyd toegemaak. Lodewyk het hartverskeurend begin huil en hy het
haar lewelose liggaam styf in sy arms vasgedruk. Daarna het hy een van die porselein
duifies in haar linkerhand toegevou.
Die volgende oomblik word Lodewyk deur 'n hees stem uit sy gedagtewêreld tot die
werklikheid teruggeroep. Hy knip sy oë om seker te maak hy sien reg. Sy staan daar
in haar ligte-blou somersrok en haar bruingebrande bene glinster in die son. Haar
lang blonde hare hang losweg oor haar skouers. Haar volmaakte kaal voete vang
dadelik sy oë. Sy kom nader gestap en steek haar hand na hom toe uit om haarself
voor te stel. "Hi, ek is Lana," sê sy. Hy kyk in haar helder-blou oë en sy sien sy
ongeloof. "Jy sal my nie ken nie, maar ek is Linda se tweeling suster," vervolg sy.
"Ons is by geboorte van mekaar geskei en sy het nie van my bestaan geweet nie. Ek
het self ook nie geweet dat ek 'n aangenome kind was nie, en het dit eers by my
aanneem ma verneem toe sy op sterwe gelê het. Ek het eers onlangs uitgevind dat ek
'n tweeling suster gehad het. Met my navrae om haar op te spoor het ek van die
bomontploffing en van haar dood verneem. Dit het altyd vir my gevoel asof daar 'n
gemis in my lewe was. Ek het jou kom opsoek omdat jy die enigste oorblywende
skakel met haar is. Ek hoop nie jy gee om dat ek gekom het nie!"
Lodewyk skud sy kop en nooi haar na sy huis toe. Hy is verstom oor die feit dat sy
op 'n haar na, na Linda lyk. Toe sy met haar linkerhand beduie sien hy vir die eerste
keer die klein tatoeëer-merk van 'n duif op die rugkant daarvan.
Toe hulle op die stoep van sy huis kom, kom die tortelduif vanuit die niet nader
gevlieg. Sy gaan sit op Lana se linkerskouer en begin saggies koer. Die tortelduif kyk
na Lodewyk en gaan sit op sy linkerskouer. Dit is die eerste keer wat die duif dit
waag om naby hom te kom. Só of sy geweet het sy moes tot vandag wag.
Lodewyk verstaan skielik en kyk hemelwaarts."Dankie liewe Heer!" prewel hy. Hy
kyk in Lana se helder-blou oë en sy hartseer vervaag. Sy vat hom aan die arm en hy
voel haar ferm greep. Toe sy glimlag sien hy die kuiltjies langs haar mondhoeke.
Die tortelduif vlieg weg op haar laaste vlug...
**********
OOR DIE SIMBOLIEK VAN DIE VERHAAL:
Ons weet nie altyd hoekom ons hemelse Vader toelaat dat dinge gebeur wat ons nie
7.
kan verstaan nie. Hy het egter altyd 'n manier om ons te vertroos. Somtyds neem dit
langer as wat ons verwag, dikwels juis omdat ons nie gereed is om Sy stem te hoor
nie!

No comments:

Post a Comment